|

AfriForum se Lichtenburg-tak vul slaggate tydens #OnsDorp-projek

AfriForum se Lichtenburg-tak het op 14 Oktober 2021 agt ton teer gebruik om ongeveer 120 m2 se slaggate in Eerstestraat te herstel. Hierdie veldtog vorm deel van die organisasie se #OnsDorp-projek en het die tak ongeveer R20 000 gekos. Die Lichtenburg-tak het vanjaar al meer as 120 ton teer gebruik om ongeveer 1 500 m2 se padoppervlakte te herstel. Die totale koste van vanjaar se projekte beloop nou meer R300 000 en is moontlik gemaak danksy AfriForum-lede se finansiële bydraes, sowel as groot skenkings van sakeondernemings en individue in Lichtenburg.

“Die #OnsDorp-projek is van stapel gestuur om ons dorpe en woongebiede op te knap. Met die projek stuur ons ’n boodskap uit dat ons verantwoordelikheid neem vir ons eie areas. Ons sal self ons dorpe onderhou as die verantwoordelike partye dit nie doen nie,” sê Petrus Coetzee, AfriForum se distrikskoördineerder vir Marico.

“Die herstel van slaggate is vir ons ’n prioriteit en ons wil inwoners en skole wat soortgelyke probleme ervaar, aanmoedig om ons te kontak. ’n Groot woord van dank moet ook gaan aan die gemeenskapslede wat reeds betrokke geraak het en wie se bydraes hierdie projek moontlik gemaak het. Dankie ook aan die munisipaliteit wat hand bygesit het en masjinerie beskikbaar gestel het,” sê Steyn Kearney, voorsitter van AfriForum se Lichtenburg-tak.

Word vandag nog deel van AfriForum se Lichtenburg-tak: SMS “Lichtenburg” na 45344 (R1) of skakel vir Pine Pienaar by 082 371 5312.

Soortgelyke plasings