| |

SENIOR POLISIEBEAMPTE GRYP IN NADAT PRIVAATVERVOLGINGSEENHEID FAMILIE BYSTAAN

AfriForum se privaatvervolgingseenheid het op 16 November ’n konstruktiewe vergadering gehad met kol. Phillip Abakhole Maluleke, die bevelvoerder van die Brooklyn-polisiekantoor se speurtak, asook die familie van die man wat in Januarie vanjaar dood aangetref is in ’n badkamer in Menlyn Mall. Kol. Maluleke het aangedui dat die bedrogsaak wat die klaer in Oktober vanjaar gelê het, heropen is. Hy het ook ’n onderneming gegee dat hy ondersoek sal instel na die beweerde wangedrag van polisielede by die betrokke polisiekantoor.

Dít volg nadat die pa van die oorledene en die klaer in ’n bedrogsaak se klag in Oktober vanjaar by die Brooklyn-polisiekantoor binne agt minute as “vals” bestempel en afgesluit is deur die speurtak. Die privaatvervolgingseenheid het ook ’n diensklag teen die betrokke polisiekaptein in hierdie verband gelê nadat ’n beampte gedreig het om die klaer te arresteer omdat hy kwansuis ’n valse klag geopen het.

“AfriForum se privaatvervolgingseenheid verwelkom kol. Maluleke se beslissende optrede in hierdie saak. Al wat die familie in hierdie saak wil hê is dat die saak behoorlik ondersoek moet word en kol. Maluleke het aan ons die versekering gegee dat dit wel gaan gebeur. Hy het ook onderneem om die nodige ondersoek na die betrokke polisiebeampte se optrede te doen. Ons sal steeds betrokke bly by hierdie saak en voortgaan om die familie in hierdie saak by te staan,” sê Natasha Venter, adviseur vir die privaatvervolgingseenheid by AfriForum.

Lees die vorige mediaverklaring hier.

Soortgelyke plasings