|

AfriForum dien skriftelike kommentaar oor BELA-wetsontwerp by Nasionale Raad van Provinsies in en versoek publiek om ook deel te neem

’n Belangrike geleentheid vir die publiek om opnuut skriftelike kommentaar op die Wysigingswetsontwerp op Basiese Onderwyswette (ook bekend as die BELA-wetsontwerp) te lewer, is nou in volle swang. Die verkose komitee oor onderwys en tegnologie, sport, kuns en kultuur van die Nasionale Raad van Provinsies (NRP) het naamlik aangekondig dat skriftelike voorleggings tot 19 Januarie 2024 daaraan gestuur kan word by belabill@parliament.gov.za. AfriForum se kommentaar is pas hier ingedien.

Dit volg nadat AfriForum ook op uitnodiging ’n skriftelike voorlegging by die wetgewende gesag van Mpumalanga ingedien het en verteenwoordigers van dié organisasie ’n openbare verhoor oor die wetsontwerp in dié provinsie bygewoon het.

Volgens Alana Bailey, AfriForum se hoof van Kultuursake, is vorige raadpleginggeleenthede goed ondersteun. Oorweldigende hoeveelhede lede van die publiek dui sedert 2017 aan dat die konsepwet voorstelle bevat wat ’n ernstige bedreiging vir die toekoms van gehalte onderrig oor die algemeen, en Afrikaanse moedertaalonderrig in die besonder inhou. Dit behels onder meer dat indien die wetsontwerp aanvaar word, gemeenskappe en ouers se besluitnemingsmagte oor kernaspekte van hulle kinders se onderwys beëindig sal word. Die konsepwet stel voor dat die finale besluite oor skole se toelatings- en taalbeleide deur die provinsiale onderwyshoofde geneem moet word. Hierdie magte berus tans by demokraties verkose beheerliggame en nie by die owerhede nie.

“Gemeenskappe het ’n reg om self oor die taal- en toegang tot hulle skole te besluit. Moedertaalonderrig is noodsaaklik vir die beste leeruitkomste. Beheerliggame spandeer ook jaarliks miljoene rande om ekstra poste in skole te skep sodat kinders nie in oorvol klaskamers beland nie. Indien die huidige weergawe van die wetsontwerp aanvaar word, sal ouers hierdie finale besluitnemingsmagte verloor en kinders sal nog meer uitgelewer aan die politieke magspeletjies en administratiewe wanbestuur van die owerhede wees,” meen Bailey.

AfriForum doen ’n beroep op almal wat belange by ons kinders se toekoms het, om aan hierdie openbare raadplegingproses deel te neem, selfs al het hulle by vorige geleenthede reeds hieroor mondelinge of skriftelike kommentaar gelewer. “Elke geleentheid om die wetsontwerp teen te staan, moet ten volle benut word – die saak is té belangrik om enige kans vir kommentaar te ignoreer,” sluit Bailey af.

Indien die NRP die wetsontwerp in sy huidige formaat aanvaar, is die volgende stap dat die president moet besluit of hy dit gaan onderteken of nie. Die NRP kan dit egter ook verwerp of wysigings daaraan voorstel en dit is hier waar die publiek se insette deurslaggewend kan wees.

Meer inligting oor die wetsontwerp en die gevare wat die inwerkingstelling daarvan sal inhou, is op AfriForum se webblad, www.stopbela.co.za, beskikbaar.

Soortgelyke plasings