|

SKIKKING MET NSFAS MOONTLIK WAT TIENTALLE STUDENTE SAL HELP

Deur Marthinus Koekemoer

Die hofsaak waar AfriForum meer as honderd studente help ná die Nasionale Skema vir Finansiele Bystand vir Studente (NSFAS) verlede jaar summier sowat 5 000 studente se lenings opgeskort het, sal op 26 Februarie in die Kaapse Hooggeregshof aangehoor word.

Maar volgens Daniël Eloff, AfriForum se regsverteenwoordiger, verloop onderhandelings tussen die partye tans positief, soveel so dat ’n skikking buite die hof waarskynlik bereik kan word.

“Soms wanneer daar onderhandel word, kry ’n mens die gevoel dat die ander party eintlik net wil baklei en dat die hof die enigste uitweg is, maar met NSFAS se regsverteenwoordigers is dit glad nie die geval nie.  ’n Hofdatum dien wel as motivering vir partye om daadwerklik na ’n oplossing te soek,” sê Eloff.

Talle studente het verlede jaar by AfriForum en Solidariteit om hulp aangeklop toe NSFAS hul lenings opgeskort het. Die rede wat NSFAS hiervoor aangevoer het, is dat hierdie studente oneerlik was met hul aansoekproses en hul ouers eintlik meer verdien as wat aanvanklik aangedui is. Iemand wie se ouers meer as R350 000 per jaar verdien, kwalifiseer nie vir ’n NSFAS-lening nie.

’n Tweede rede wat NSFAS aangevoer het, is onvolledige dokumentasie. Die  dokumentasie moet egter deur die instellings waar die studente studeer aangestuur word. Daar was ook gevalle waar studente wel vir lenings gekwalifiseer het, maar afgekeur is.

NSFAS is in Augustus 2018 onder administrasie geplaas met dr. Randall Carolissen as administrateur. Die proses moes ’n jaar duur, maar is later verleng. Die vakbond Nehawu het verlede jaar in ’n voorlegging aan die portefeuljekomitee oor hoër onderwys en wetenskap aangevoer Carolissen stel vriende en familie by NSFAS aan. NSFAS se hele topbestuur is ná Carolissen se aanstelling weg. Sommige is afgedank, ander het bedank of afgetree. ’n Omstrede kontrak om meer as 700 000 skootrekenaars te bekom, is ook in November verlede jaar afgeteken nadat dit twee keer voorheen onder ’n wolk van aantygings van korrupsie gekanselleer is.

’n Rekordgetal studente, sowat 750 000, het vanjaar by NSFAS vir lenings aansoek gedoen en van hulle het probleme ondervind en ook by AfriForum aangeklop. “Dié nuwe aansoeke sal nie in die stadium by die huidige hofaansoek ingesluit word nie,” sê Eloff.

AfriForum sal wel hierdie studente ook bystaan.

Alana Bailey, hoof van Kultuursake by AfriForum, het ook die onderhandelinge met NSFAS as baie positief opgesom, terwyl Chantelle du Preez, nasionale koördineerder vir tersiêre instellings by AfriForum Jeug, die hoop uitgespreek het dat die onderhandelinge AfriForum sal help om ’n beter verhouding met NSFAS te bou.

“As ons ’n verhouding met NSFAS bou, kan ons in die toekoms makliker gehelp word,” sê Du Preez.

Solidariteit en NSFAS het reeds in Desember ’n skikking bereik waarin laasgenoemde alle finansiële verpligtinge teenoor die studente wat Solidariteit verteenwoordig het, sal nakom.

Soortgelyke plasings