|

Skoliere spog met uitmuntende spelvernuf in Bloemfontein

Laerskoolleerders se uitmuntende spelvernuf het volwassenes se monde laat oophang tydens vanjaar se Spel-en-Speel-kompetisie in Bloemfontein.

Dié spelkompetisie word sedert 2014 deur die burgerregte-organisasie AfriForum in samewerking met Volksblad en die onafhanklike skool Eduplus aangebied vir Afrikaanse moedertaalsprekers en leerders wat Afrikaans as eerste addisionele taal neem.

Volgens Carien Bloem, onderwyskoördineerder by AfriForum, is dié kompetisie ’n prettige manier om kinders van die belangrikheid van spelling bewus te maak.

“Ons doel is om laerskoolleerders te leer om op ’n speelse en prettige manier te spel en sodoende hulle Afrikaanse taalvermoë uit te brei en ook natuurlik Afrikaans te bevorder. AfriForum hoop dat kompetisies van dié aard ’n liefde vir Afrikaans by kinders sal aanwakker.”

Annalize Doubell, assistentredakteur van Volksblad, het met die aanvang van die projek vier jaar gelede gesê dat dit vir die koerant baie belangrik om kompetisies soos Spel-en-Speel aan te bied.

“Dit is vir ons belangrik om ’n liefde vir Afrikaans by kinders te kweek, want ons is tog ’n Afrikaanse koerant en ons voel dat as ons kinders van jongs af kan leer hoe belangrik dit is om te kan spel, dan bereik ons werklik iets.”

Sy sê voorts dat die naam van die kompetisie baie gepas is. “Ons kan sien hoe entoesiasties die kinders is en hoe hulle werklik hulself geniet. Die kompetisie groei jaarliks en ons sien daarna uit dat al hoe meer skole saam kom spel en speel.”

Die onderskeie wenners van die 2018 Spel-en-Speel-kompetisie is:

  • Mia Greeff (Laerskool Universitas, gr. 4-wenner in Afrikaans – huistaal).
  • Lisa Botha (Laerskool Fichardtpark, gr. 5-wenner in Afrikaans – huistaal).
  • Elseri Venter (Laerskool President Brand, gr. 6-wenner in Afrikaans – huistaal).
  • Clarissa Venter (Eduplus, gr. 7-wenner in Afrikaans – huistaal).
  • Neilke Maree (Eduplus, gr. 4-wenner in Afrikaans – Eerste addisionele taal).
  • Quistynn Veldschoen (St. Michael-skool, gr. 5-wenner in Afrikaans – Eerste addisionele taal).
  • Jacolé Spangenberg (Eunice Primary School, gr. 6-wenner in Afrikaans – Eerste addisionele taal).
  • Alexja Coetzee (Eduplus, gr. 7-wenner in Afrikaans – Eerste addisionele taal).

Soortgelyke plasings