|

Forum Nuus: Dié Week se Blitsflits

AfriForum se takke landwyd het hierdie week verskeie projekte aangepak om staatsverval te stuit en te voorkom terwyl die buurtwagte goeie suksesse behaal het.

Die AfriForum-tak in Bethal het 150 sakke vullis opgetel tydens ’n skoonmaakprojek. In Bronkhorstspruit is ’n waterlek, wat inwoners vir byna ’n week sonder water gelaat het, herstel ná volgehoue druk van die AfriForum-tak.

Die Standerton-tak het met toestemming van die Lekwa Plaaslike Munisipaliteit alarmstelsels by twee substasies geïnstalleer nadat substasies in die dorp tydens beurtkrag onder vandale deurgeloop het.

AfriForum se Thabazimbi-tak het ingespring en gehelp om slaggate in die dorp in samewerking met sektor 7 van die plaaslike Gemeenskapspolisiëringsforum te vul. Die tak het ’n ton teer geskenk en ’n verdere 2,5 ton teer is deur die gemeenskap geskenk. Die tak het ook ’n amptelike skrywe aan die Thabazimbi Plaaslike Munisipaliteit gestuur waarin ’n regrukplan versoek word om die dorp se jare lange swak watervoorsiening hok te slaan.

Die Lichtenburg-tak het in net 11 dae 124 slaggate in twee strate in dié dorp herstel. Dié tak het van Junie af reeds meer as 11 ton teer gebruik om paaie in die dorp te herstel.

Die organisasie het ook 14 ton strooibale aan boere in die Vryburg-omgewing geskenk wat onlangs onder veldbrande deurgeloop het.

In Sasolburg het die AfriForum-buurtwag die polisie suksesvol ondersteun in die uitvoering van Operasie Shanela. Nagenoeg 40 suksesse is behaal, waaronder arrestasies vir oortredings van die Nasionale Padverkeerswet, die Nasionale Drankwet (onder meer vir die gebruik van alkohol in die openbaar) en die verhindering van ’n polisiebeampte om sy pligte uit te voer.

AfriForum se Albertinia-plaaswag en Riversdal-buurtwag het op 11 September gehelp om twee verdagtes vas te trek vir die onwettige besit van sowat 50 plante van meer as 25 verskillende bedreigde plantspesies. Die verdagtes het reeds in die hof verskyn vir die onwettige besit van beskermde plantspesies.

In Bothaville het die buurtwag die polisie gehelp om drie kabeldiewe vas te trek toe die verdagtes koperkabels by ’n skrootwerf wou verkoop. Dié buurtwag het die afgelope twee maande gehelp om nog nege ander verdagtes vas te trek.

Die AfriForum-takke in Upington, Groblersdal en Delportshoop het bome geplant of geskenk as deel van die organisasie se jaarlikse boomplantmaandprojek.

AfriForum het ook die Tshwane Metro gemaan om die geld wat hulle weens die onwettige staking verloor het, van die South African Municipal Workers’ Union (SAMWU) te eis en nie rekeninge vir vullisverwydering aan inwoners van dié munisipaliteit te stuur nie.

’n Amptelike hofaansoek is by die Hoogste Hof van Appèl ingedien waarin AfriForum versoek dat waarnemende appèlregter Raylene Keightley van die “Kill the Boer”-saak onttrek word ná dit aan die lig gekom het dat sy in ’n vorige hofsaak sterk menings teen AfriForum uitgespreek het.

AfriForum eis verder in ’n regsbrief dat die Gautengse Wetgewer se Portefeuljekomitee oor Gesondheid en Welstand om onmiddellik die openbare verhore oor die wetsontwerp op Nasionale Gesondheidsversekering (NGV) te staak nadat dit onder dié organisasie se aandag gekom het dat openbare verhore plaasvind sonder dat die tye of datums daarvan voldoende geadverteer is. AfriForum het egter by die openbare verhoor vir die wetsontwerp, wat in Johannesburg gehou is, dit onomwonde gestel dat die instelling van dié wetgewing Suid-Afrika se gesondheidsorg en ekonomie tot op sy knieë sál dwing.

AfriForum, Saai en verskeie ander rolspelers in die landbousektor het op AfriForum en Saai se Landelike Veiligheidskonferensie in Centurion, ooreengekom om plaasaanvalle en landelike misdaad deur middel van ’n samewerkende strategie hok te slaan.

AfriForum se privaatvervolgingseenheid ondersteun die klaer Charl Visser nadat twee mans ’n trofee njala-bul ter waarde van nagenoeg R12 000 gestroop het. Ná die saak talle kere uitgestel en selfs al van die rol geskrap, is die saak weer eens uitgestel tot 18 Oktober.

Soortgelyke plasings