|

AfriForum en Solidariteit in hof om regering se appèl in diskriminerende Toerismefonds-saak teen te staan

Die Departement van Toerisme se appèlsaak is vandag in die Konstitusionele Hof aangehoor. Die departement appelleer die 2021 uitspraak deur die Hoogste Hof van Appèl in Bloemfontein, in AfriForum en Solidariteit se guns, dat die gebruik van swart ekonomiese bemagtiging (SEB) as kriteria vir die toerismefonds onwettig is.

In 2020 het Mmamoloko Kubayi-Ngubane, die minister van Toerisme, die Toerisme-ekwiteitsfonds as ’n instelling bekendgestel wat slegs lenings en toelaes aan ondernemings, wat minstens 51% swart eienaarskap het, sou toestaan. Volgens AfriForum en Solidariteit is die toeken van hulpfondse op grond van ras onredelik, die Appèlhof het dít beaam en hierdie aksie van die departement as onwettig verklaar.

“Alle ondernemings, in besit van entrepreneurs van alle rasse, het gedurende die regering se Covid-19-inperkings gesukkel en menigte moes noodgedwonge hul deure vir altyd sluit. Dít spreek boekdele van die ANC-regering se wrede rasbeheptheid, dat hulle ’n ondernemingeienaar in die oë kan kyk en vir hom of haar sê dat hulle té wit is vir hulp,” sê Ernst van Zyl, veldtogbeampte vir strategie en inhoud by AfriForum.

“Genoeg is genoeg. Dié sistemiese rassediskriminasie van die ANC-regering moet tot ’n einde kom. Daarom veg AfriForum en Solidariteit met alles wat ons het om te verseker dat hierdie monster van rasdiskriminerendewette, vir altyd verslaan word,” sluit Van Zyl af.

“Dit is duidelik dat die staat vasbeslote is om sy rasse-agenda ten alle koste deur te voer. Die regering stel nie in redelikheid belang nie en neem geensins die eienaars van sakeondernemings of die werknemers, wat tydens die pandemie onder swaarkry gebuk moes gaan, in ag nie. Dit is hoogtyd dat regeringsamptenare besef dat hulle nie net kan maak en breek soos wat hulle wil nie en dat die belastingbetaler se geld nie onverskillig uitgegee of aangewend kan word om die ANC se ideologie te finansier nie,” sê Anton van der Bijl, hoof van regsake by Solidariteit.

“Die kriteria vir die fonds is doodeenvoudig rassisties. Die staat kan dit as transformasie probeer verbloem, maar hy het lankal sy ware kleure gewys. Dit is uiters laag om die skade wat die regering met sy onredelike Covid-19-inperkingsregulasies aan die toerismesektor berokken het, nou uit te buit om teen mense te diskrimineer. Ons is gereed om vir so lank as wat dit verg teen hierdie diskriminasie te baklei,” sluit van der Bijl af.

Uitspraak is voorbehou.

Soortgelyke plasings