|

Slegs een vullisterrein in Limpopo slaag AfriForum-oudit

AfriForum het landwyd 189 vullisterreine geoudit om die huidige toestand van munisipale en private vullisterreine in Suid-Afrika te bepaal. Die jaarlikse oudit bepaal of vullisterreine aan die nodige omgewings-, gesondheids- en veiligheidsvereistes vir verantwoordelike afvalbestuur voldoen. Die oorgrote meerderheid (85,8%) van vullisterreine kon egter nie vanjaar se oudit slaag nie. Met hierdie in ag genome lyk die situasie in Limpopo selfs nóg slegter as die res van die land.

Om die oudit te kon slaag, moes ’n vullisterrein aan minstens 80% van die ouditvereistes voldoen het. Slegs een van die 14 vullisterreine wat in Limpopo geoudit is, het egter aan die minimum wetlike vereistes vir verantwoordelike afvalbestuur voldoen. Dis ’n verswakking van verlede jaar toe twee vullisterreine (uit 14) die oudit geslaag het. Die een vullisterrein wat wel vanjaar geslaag het, is in Tzaneen geleë en het aan 88% van die ouditvereistes voldoen. Die vullisterrein in Groblersdal (74%-nakoming) en Musina (78%-nakoming) het byna die paal gehaal, terwyl die vullisterrein in Ellisras wat verlede jaar (82%-nakoming) goed gevaar het, se standaarde vanjaar (42%-nakoming) uiters versleg het.

Só vergelyk die vullisterreine in Limpopo:

Volgens Hendrik Kotze, AfriForum se provinsiale koördineerder vir Limpopo, is dit duidelik dat die meeste vullisterreine in die provinsie in ’n haglike toestand is. “’n Algemene probleem wat AfriForum se takke in Limpopo tydens hierdie oudit opgemerk het, is dat daar min tot geen hulpbronne beskikbaar is om vullisterreine doeltreffend te bestuur nie. Die enigste vullisterrein wat geslaag het, word deur ’n privaat kontrakteur bestuur. Dis ’n groot bron van kommer, aangesien die betrokke munisipale amptenare nie deur die provinsiale of nasionale regering tot verantwoording geroep word nie.”

Die situasie by die hierdie vullisterreine kan toegeskryf word aan die munisipaliteite se ernstige tekortkominge met betrekking tot hul stelsels vir afvalbestuur en die personeel wat hiervoor verantwoordelik is. Kleiner munisipaliteite gaan veral gebuk onder wanbestuur in dié afdeling. Dit blyk egter dat geen daadwerklike stappe gedoen word om die tekortkominge die hoof te bied nie.

AfriForum beplan reeds ’n vergadering met dr. Dion George, minister van Bosbou, Visserye en die Omgewing (DBVO), om die vullisterreinouditverslag se bevindings met hom te deel en ’n formele ondersoek teen Limpopo se nie-nakomende munisipaliteite te versoek. AfriForum is van mening dat Suid-Afrikaners se grondwetlike regte, soos die reg op ’n skoon en gesonde omgewing, deur die swak bestuur van vullisterreine ontsê word, daarom sal die DBVO dringend munisipaliteite tot verantwoording moet roep.

Soortgelyke plasings