|

AfriForum gaan NVG se besluit om nie beslag te lê op Sharemax-bates nie betwis

AfriForum se Privaatvervolgingseenheid berei voor om die Nasionale Vervolgingsgesag se besluit op hersiening te neem om nié ’n bewaringsbevel ten opsigte van die bates van die Nova Eiendomsgroep (voorheen Sharemax) te bekom nie. Die NVG tree gereeld namens beleggers op teen soortgelyke beleggingskemas, maar het om onverklaarbare redes besluit om nie op te tree in hierdie dekadelange skandaal nie.

In ’n brief aan adv. Ouma Rabaji-Rasethaba, Adjunk- Nasionale Direkteur van Openbare Vervolging en hoof van die Batebeslagleggingseenheid (AFU), het AfriForum die regsopinie versoek waarop die besluit gebaseer is. Die Privaatvervolgingseenheid het dit aan Rabaji-Rasethaba gestel dat hulle die regsopinie onder oë wil kry om te verseker dat alle kanale uitgeput is voordat die hof genader word.

“Die Batebeslagleggingseenheid se besluit om nie ’n bevel te bekom om die Nova-maatskappy se bates in bewaring te neem nie, is na ons mening irrasioneel en tot verdere nadeel van die slagoffers wat enorme finansiële verliese gely het as gevolg van die Sharemax-debakel. Die NVG baseer hul besluit om nie op te tree nie op ’n verslag wat deur ’n senior advokaat opgestel is. Ons wil hierdie verslag sien omdat die NVG – ná meer as ’n dekade – nie net versuim het om vervolging in te stel nie, maar daar ook steeds geen terugbetaling van die oorspronklike belegging of dividende aan beleggers plaasgevind het nie,” sê adv. Gerrie Nel, hoof van AfriForum se Privaatvervolgingseenheid.

AfriForum voer aan dat die Nova/Sharemax-bates met die opbrengs van ’n misdaad bekom is. Die eenheid se aandrang op die bewaringsbevel word verder versterk deur die feit dat die direksie van die Nova-maatskappy op 20 Januarie 2022 (die sperdatum vir die terugbetaling van skuldbriewe) geweier het om enige skuldbriewe terug te betaal. Een van die direkte gevolge van die bewaringsbevel is dat niemand met die eiendom ter sprake mag handel totdat die hof ’n finale bevel gegee het dat dit verkoop of aan die regmatige eienaars teruggegee moet word nie.

“Die Privaatvervolgingseenheid het selfs die aansoek om hierdie bewaringsbevel opgestel en aan die AFU verskaf. Ons het dit reeds in Junie 2020 gedoen, maar ná byna twee jaar is daar geen vordering in die saak nie, desondanks die feit dat ons weet dat die NVG gereeld namens beleggers teen soortgelyke beleggingskemas optree. Ons het reeds op meer as een geleentheid die NVG dringend versoek om bloot hul plig te doen, maar hul volgehoue weiering om op te tree, sal ons noop om ’n hersieningsaansoek te bring,” sluit Nel af.

Soortgelyke plasings