Water
|

AfriForum uitgenooi om in Parys met minister van Water en Sanitasie te vergader

AfriForum het ’n eksklusiewe uitnodiging ontvang om op 28 Junie ’n vergadering by te woon wat deur Senzo Mchunu, die minister van Water en Sanitasie, gelei is. ’n Afvaardiging van die Departement van Water en Sanitasie (DWS) en die Ngwathe Plaaslike Munisipaliteit onder leiding van Victoria de Beer-Mthombeni, die burgemeester, het ook die vergadering bygewoon.

Die minister het aan elke party die geleentheid gegee om hulle betrokkenheid met die waterkwessie in Parys voor te lê.  Die afgevaardigdes van AfriForum, Jaco Grobbelaar, hoof van die sentraalstreek, Alta Pretorius, distrikskoördineerder vir die Mooirivier en Schalk Burger, voorsitter van die Parys-tak, het AfriForum se betrokkenheid met die watersituasie, veral die afgelope drie jaar, uiteengesit. Pretorius het daarop gewys dat die munisipaliteit reeds in September 2021 ’n ooreenkoms met AfriForum geteken het waarin ooreengekom is dat AfriForum spesialisverslae oor die waterwerke en die rioolwerke sal laat doen, wat onmiddellik deur AfriForum gedoen is en die verslae is, met kosteberekening ingesluit, aan die munisipaliteit gelewer. In die lig van beurtkrag en die ekstra kragonderbrekings wat in Parys heers, is die feit dat ’n kragopwekker bekom moet word, onderstreep. Kommer is uitgespreek dat daar niks van die aanbevelings op die verslae nagekom is nie, ook nie die kragopwekker nie. Grobbelaar het agtergrond oor die hofsake gegee terwyl Burger beswaar gemaak het teen die boor van boorgate omdat die grondformasie toon dat daar nie water gekry sal word nie. Daar is reeds nege droë gate geboor teen ’n koste van R500 000. Burger het ook daarop gewys dat die pyp wat die munisipaliteit besig is om te lê nie aan die nodige vereistes voldoen nie en dus nie behoorlik sal kan funksioneer nie.

Die munisipaliteit het die watersituasie en die uitdagings rondom watervoorsiening uitgelig. Risimati Mathye, die adjunk-direkteur-generaal van die DWS, het daarna ’n intervensieverslag aan die vergadering voorgelê waarin oplossings met tydlyne aangedui word.

In sy samevatting het die minister daarop aangedring dat die munisipaliteit dadelik ’n kragopwekker moet bekom en gebruik om die waterwerke te laat funksioneer tydens kragonderbrekings. Omdat die munisipaliteit vandalisme uitgelig het, het hy ook daarop aangedring dat daar behoorlike sekuriteit moet wees. Die sleutelposte van munisipale bestuurder, finansiële hoof en direkteure moet so gou moontlik met bevoegde mense gevul word. Op AfriForum se vraag wie verantwoordelik gehou sal word as die beloftes nie nagekom word nie, het die minister homself en die burgemeester aangewys as die verantwoordelike persone. Hy het ook die burgemeester opdrag gegee dat daar ’n forum vir wateraangeleenthede in Parys tot stand moet kom waarop belanghebbendes verteenwoordiging moet hê. Die minister het AfriForum gevra om die hofsaak in heroorweging te neem en die munisipaliteit geleentheid te gee om hulle werk te doen.

“Dit was goed om die vergadering te kon bywoon. Dit sou egter beter gewees het as daar nie net ANC-raadslede teenwoordig was nie, maar as gemeenskapsorganisasies uit al die gemeenskappe ook uitgenooi was. Wat die hofsaak betref, kan ons geen onderneming gee nie. Dis tyd dat die munisipaliteit moet bewyse lewer van hul beloftes. AfriForum is bereid om te help, maar ons gaan verseker dat die munisipaliteit en die minister by hul beloftes hou,” sê Pretorius.

Volgens Burger was dit ’n baie goeie geleentheid om die waterkrisis in Parys in die gesig te staar. “Ek stem volkome saam met die minister wat sê dat ons nie tyd en geld moet mors deur boorgate te boor nie, want ons het die standhoudende Vaalrivier. Ons moet daardie water suiwer en gebruik,” sluit Burger af.

Indien jy by hierdie AfriForum-tak wil betrokke raak, kontak vir Burger by 082 653 4281.

Soortgelyke plasings