SLIMkoppe weer op die planke as deel van AfriForum-veldtog


As deel van AfriForum se Studeer en Leer in jou Moedertaal (SLIM)-veldtog vir die bevordering van moedertaalonderrig, word die verhoogproduksie SLIMkoppe vanjaar vir die eerste keer by skole in die Noordwes en vir ’n tweede keer in Gauteng opgevoer.
SLIMkoppe, geskryf deur die akteur en dramaturg Chris Vorster, het ten doel om bewusmaking onder skoliere te skep van die voordele om in jou moedertaal te studeer. Vorster behartig ook die regie van dié verhoogproduksie.
Akteurs soos Odelle de Wet, Botha Enslin, Hannes Brummer en Francois Viljoen is in die hoofrolle te sien.

“Die produksie gaan leerlinge nie net laat skaterlag nie, maar hulle ook met ’n waardevolle boodskap laat. SLIMkoppe wil die waarde en voordele van moedertaalonderrig – en hoe dit jou in jou beroepslewe toerus en nuwe deure oopmaak – uitlig,” sê Carien Bloem, projekkoördineerder vir onderwysveldtogte by AfriForum.

AfriForum het verder ook twee suksesvolle SLIM-video’s oor die afgelope paar jaar vervaardig om bewusmaking onder Afrikaanssprekendes te kweek. Verskeie inspirerende Afrikaanse Suid-Afrikaners is in dié video’s, wat ook op YouTube beskikbaar is, te sien.

“Dié Afrikaners floreer beide nasionaal en internasionaal in hul onderskeie beroepe – en is steeds onbeskaamd Afrikaans,” sê Bloem.

Die produksie is hierdie jaar van 24 Julie tot 2 Augustus gratis by skole in Noordwes te sien. Die program lyk soos volg:
24 Julie:         Brits – Hoërskool Wagpos
25 Julie:         Rustenburg – Hoërskool Rustenburg
26 Julie:         Koster – Koster Gekombineerde Skool en
Lichtenburg – Hoërskool Lichtenburg
28 Julie:         Klerksdorp – Hoërskool Klerksdorp
31 Julie:         Potchefstroom – Potchefstroom Gimnasium en
Hoërskool Ferdinand Postma
1 Augustus: Fochville – Hoërskool Fochville
2 Augustus: Johannesburg – Helpmekaar Kollege

https://www.youtube.com/watch?v=yxBAEP6z7Is
https://www.youtube.com/watch?v=e38WDLqkvr0

Soortgelyke plasings