|

Só lyk alternatief tot NGV, meen kenners

Suid-Afrikaners smag na ’n alternatiewe gesondheidsorgstelsel wat nie so winsgedrewe is soos die privaat sektor of so swak is soos die openbare sektor nie. Kenners is dit eens dat Nasionale Gesondheidsversekering (NGV) nie juis die oplossing hiervoor is nie, maar dat die algehele privatisering van die bedryf dalk die enigste werkbare alternatief is.

Verskeie toonaangewende stemme in die gesondheidsorgbedryf het gister op uitnodiging van AfriForum byeengekom om oplossings vir die dreigende gesondheidsorgkrisis, wat uit die implementering van die NGV sal voortvloei, te bespreek.

Die ekonoom Dawie Roodt het ’n nuwe benadering tot gesondheidsorg in Suid-Afrika voorgelê. Volgens Roodt moet die staat se mediese dienste, soos hospitale en klinieke, eerstens geprivatiseer word. Daarna moet wetgewing ingestel word wat lidmaatskap van ’n mediese fonds verpligtend maak vir alle Suid-Afrikaners. Diegene wat reeds aan ’n mediese fonds behoort sal onbelemmerd met hul lidmaatskap kan voortgaan.

“Die res van die bevolking sal dan in een van minstens drie privaat fondse gegroepeer word om sodoende toegang tot beperkte, tog hoë gehalte privaat mediese sorg te kry,” het Roodt voorgestel. “Die befondsing hiervoor sal uit die staat se gesondheidsorgbegroting, wat tans in sukkelende of wanfunksionele hospitale en klinieke gepomp word, geput kan word.”

Roodt het verder aangevoer dat pasiënte wat verdere mediese sorg benodig in opleidingshospitale geakkommodeer kan word.

Vernon Chorn, uitvoerende hoof van Unity Health, het ook die uitvoerbaarheid van NGV in twyfel getrek, terwyl André Jacobs, outeur van die boek Medical schemes explained, op die gevare van die implementering daarvan gewys.

“Die NGV sal eenvoudig nie onder die huidige vooruitskattings oorleef nie, aangesien dit ’n beduidende bedrag – ongeveer R600 miljard – benodig om suksesvol geïmplementeer te word. Daar is geen manier om hierdie bedrag in te samel sonder om belasting te verhoog nie en dit sal uiteindelik ’n swakker BBP tot gevolg hê,” het Chorn gesê.

Vernon Chorn

Jacobs het op sy beurt gewys op die talle onsekerhede wat tans oor NGV bestaan en benadruk dat die implementering van NGV uiteindelik tot ’n stelsel sal lei waarin groter afhanklikheid van die staat gevestig sal word, terwyl die vryheid van keuse ook van pasiënte ontneem sal word. Jacobs het voorgestel dat ’n tweebeenstrategie – waarin voorkoming en behandeling toegepas word – ’n werkbare oplossing vir die huidige sukkelende Suid-Afrikaanse gesondheidstelsel sal bied.

Die NGV-wetsontwerp kan nou enige dag deur pres. Cyril Ramaphosa onderteken en as wet bekragtig word, maar ná AfriForum se konferensie was die kenners dit eens dat dit onmoontlik is om NGV in Suid-Afrika te finansier.

AfriForum volg sedert 2019 al die wettige kanale om die NGV-wetsontwerp teen te staan, maar sou die president die NGV-wetsontwerp onderteken, het die burgerregteorganisasie onderneem om dit verder in die hof te daag.

“AfriForum is steeds optimisties dat die NGV-wetsontwerp deur openbare druk en regsgedinge gestuit kan word, maar Suid-Afrikaners moet nogtans hulself voorberei met oplossings sou daar ’n gesondheidsorgkrisis deur NGV teweeggebring word,” het Boshoff afgesluit.

Soortgelyke plasings