|

Paaie in Rustenburg se industriële gebied opgeknap danksy AfriForum

Die AfriForum-tak in Rustenburg het op 3 Mei ’n kontrakteur (Road Chem) aangestel om ’n verbrokkelde pad op die hoek van Lucasstraat en Watervallaan in die industriële gebied te herstel. Altesaam 25 ton teer en ’n drom ss60 Bitumen is gebruik om hierdie slaggate reg te maak.

“Die instandhouding van industriële gebiede is ’n hoofprioriteit vir ’n dorp se ekonomiese volhoubaarheid en welvaart, aangesien dit werkgeleenthede skep en stedelike ontwikkeling bevorder. Die handhawing van infrastruktuur en dienste in hierdie gebiede dra dus by tot die produktiwiteit van ondernemings en die lewenskwaliteit van die gemeenskap,” sê Armand Viljoen, AfriForum se distrikskoördineerder vir Marico.

“Die feit dat die munisipaliteit nie instandhouding gereeld doen nie, beteken dat paaie verswak en dat ondernemings daaronder lei. AfriForum se Rustenburg-tak het besluit dat dit nie so kan aanhou nie en dat ons self gaan intree om hierdie ondernemings te help. Ons moedig ook ondernemings aan om uit te reik na AfriForum sodat ons mekaar kan help om Rustenburg se infrastruktuur op te knap. Dit kan wees deur kontantbydraes, donasies van materiale of deur handearbeid aan te bied,” sluit Viljoen af.

Vir meer inligting en om betrokke te raak by toekomstige projekte en aktiwiteite, kontak Dawie Conradie by 082 930 9905.

Soortgelyke plasings