|

Maatskaplike Ontwikkeling laat maatskaplike werkers in die steek

Die vakbond Solidariteit het vandeesweek ’n voorlegging in die parlement gemaak oor die skokkende stand van sake in die Departement van Maatskaplike Ontwikkeling. ’n Verslag oor al die probleme by die departement is ook vrygestel en dit skets ’n uiters donker prentjie.

Die verslag is opgestel uit inligting wat deur middel van ’n aanlyn opname van 138 respondente bekom is. Meer as die helfte van respondente is ouer as 46 jaar, sowat 92% is vroue en bykans die helfte woon in Gauteng. Meer as 42% werk in kindersorg en 63% werk vir ’n nieregeringsorganisasie (NGO) of is in privaat praktyk.

In kort kom die verslag tot die slotsom dat die departement nie doen wat van hulle verwag word nie en eerder geneig is om te kritiseer en baas te speel as om te help of te ondersteun. Maatskaplike werkers word nie ondersteun en bemagtig om hul werk te doen nie. Daar is ook nie hulp of steun in terme van fondse, subsidies, goeie salarisse of algemene hulpbronne nie. Hulle kan ook nie staatmaak op kundigheid, kennis, raad, beskerming en die aanpak van probleme in die beroep nie.

Dit is nie verbasend nie dat die departement in ʼn chaotiese toestand is.

“Maatskaplike werkers wat aan die studie deelgeneem het beklemtoon dat hulle nie ondersteuning van die departement kry nie.”

Volgens Bianca Smit, ’n netwerkkoördineerder by Solidariteit, het bykans 80% van maatskaplike werkers wat aan die opname deelgeneem het aangedui die departement tree oneties en nie in die beste belang van kliënte op nie.

Van die grootste uitdagings wat maatskaplike werkers in die gesig staar, is swak kommunikasie (61%) en swak dienslewering (69%). Sowat 74% dra kennis van onetiese optrede van die departement. Die plasing van kinders en optrede wat nie in hul belang is nie, is hier ter sprake.

Die uitkomste van hierdie verslag dui op ʼn departement wat gewetenloos en onverskillig optree.

“Menswaardigheid is die minste wat die departement behoort te voorsien en selfs daarmee faal hulle. Daarom is dit veral kommerwekkend dat diegene wat juis probeer om hierdie menswaardigheid vir slagoffers te bewerkstellig – maatskaplike werkers – ook deurlopende uitdagings in die gesig staar,” sê Smit.

Alhoewel Solidariteit se verslag op verskeie uitdagings by die departement wys, is die vakbond ná die voorlegging in die parlement en verdere gesprekke versigtig optimisties dat meer doeltreffende kommunikasie en samewerking tussen belanghebbendes en die departement moontlik is.

“Lede van die komitee was dit eens dat die interaksie tussen die departement en belanghebbendes tot dusver onwenslik was. Ons verwelkom dit dat die komitee klem lê op die uitvoering van sy mandaat om die departement aanspreeklik te hou vir tekortkominge wat met dienslewering ondervind word. Ons is ook gereed om van ons kant af met die departement en ander belanghebbendes saam te werk om die toestand van en die omgewing waarin maatskaplike dienste gelewer word te verbeter. Nie net ter wille van ons lede nie, maar ook ter wille van al die duisende kwesbare Suid-Afrikaners wat van dié dienste afhanklik is,” sê Smit.

Soortgelyke plasings