|

Solidariteit Beweging steun veelpartyregering; het streng voorwaardes

Die Solidariteit Beweging het vandag aangekondig dat dié Beweging ’n veelpartyregering voorwaardelik sal steun en aan ’n nasionale dialoog sal deelneem om vooruitgang in Suid-Afrika daar te stel sodat almal in die land gelyke behandeling kan geniet.

Volgens Flip Buys, voorsitter van die Solidariteit Beweging, is die land op ’n beter plek as vóór die verkiesing en is daar hoop om die land te verbeter.

Die Beweging het bevestig dat hy reeds informeel in gesprek is met die meeste partye wat by koalisiegesprekke betrokke is.

Die Solidariteit Beweging se voorwaardes, wat reeds deurgegee is, sluit in politieke ruimte vir kulturele selfverwesenliking, die skrapping van die Bela-konsepwet en die NGV-wet, asook ’n markvriendelike ekonomiese beleid wat groei, werksekuriteit en werkskepping sal bevorder.

Buys het verder gesê die ANC het sedert 1994 altesaam 116 rassewette ingestel wat ’n bespotting maak van grondwetlike aansprake op nierassigheid. Volgens hom moet beleide aan hul uitkomste getoets word.

“Mense smag na ’n werkende land. Die Solidariteit Beweging sal inklim en help, maar dan moet ons die kulturele vryheid gegun word om as gemeenskap te kan leef. Suid-Afrika het ’n herset van rasseverhoudinge nodig, en ’n nasionale beleid van restourasie in plaas van transformasie.”

Volgens Buys beplan hulle nie om met die ANC of enige ander party “in die bed” te klim nie, maar eerder in die “kryt” waar daar reëls is al gaan daar verskille wees.

“Die strategiese doel is dus nie oppervlakkige goeie verhoudinge of ’n tydelike en kunsmatige nasiebou nie, maar praktiese uitkomste wat lei tot blywende goeie verhoudinge én groter nasionale eenheid in verskeidenheid. Ons benadering is een van samewerking (cooperation), en nie koöptering nie. Daarom is ons doel nie om die land te probeer ‘red’ deur ’n nuwe soort ‘voogdyskap’ waarvoor ons buitendien nie die hulpbronne het nie, maar om die nodige politieke ruimte te beding om ons selfdoenprojekte uit te voer terwyl ons ons landgenote help waar ons kan en waar hulle wil,” het Buys gesê.

Die Solidariteit Beweging is, met sy 600 000 gesinne as lede wat sowat 1,8 miljoen mense is, die grootste Afrikaner-organisasie. Indien bevredigende ooreenkomste tydens die nasionale dialoog bereik word, onderneem die Beweging om op groot skaal betrokke te raak by die verskaffing van vaardighede, infrastruktuurprojekte, soos water en sanitasie, gemeenskapbeveiliging en landbouprojekte in landelike gebiede.

Dr. Dirk Hermann, bestuurshoof van Solidariteit, het tydens die konferensie gesê die uitkoms van meer mense wat ywerig gestem het, is dat die ANC bloedneus gekry het in die verkiesing. “Die mense in Suid-Afrika wil nie meer saam met die ANC struggle nie, hulle wil leef. Hulle vertrou nie meer die land in die hande van die ANC nie.”

Die burgerlike samelewing en die privaat sektor gaan nou saam met die regering moet werk om beter toestande in die land te skep. Solidariteit-lede het die vaardighede wat gebruik kan word om probleme in die land op te los.

Hermann het dit duidelik gemaak dat indien die veelpartyregering nie realiseer nie, sal daar voortgebou word. “Die Beweging se Ons sal self-idee is nie afhanklik van die regering nie. Ons grootste projekte is aangepak sonder hulp van die regering. Ons sal aanhou bou.”

Kallie Kriel, uitvoerende hoof van AfriForum, het dit beaam en gesê die Ons sal self-plan is staatsbestand. “Ons gaan voortbou en nie toestemming daarvoor vra nie.”

Volgens Kriel wil AfriForum hê dat meer groepe betrek moet word om staatsverval te stuit. Volgens hom is die afwenteling van mag baie belangrik omdat iemand wat in Pretoria bly nie besluite oor alle gemeenskappe kan neem nie.

“Ons gemeenskappe het die vermoë om byvoorbeeld na hul eie veiligheid om te sien. In plaas daarvan om vir die volgende verkiesing te beplan, sal ons eerder bou aan ’n beter toekoms.”

Daar is ’n opgewondenheid op plase omdat verandering op pad is, sê dr. Theo de Jager, direksievoorsitter van Saai. ’n Beter bedeling is nodig wat veral die bestuur van grond en grondeienaarskap betref. “Wie gaan ’n boom plant wat eers oor sewe jaar ’n oes gaan lewer as hy nie eens seker is of hy dan nog die grond gaan kan bewerk nie?”

Stabiliteit, veiligheid en voorspelbaarheid is nodig om armoede te verlig en welvaart te skep, het De Jager gesê.

Buys het afgesluit deur te sê dat hulle nie sal deelneem aan projekte wat nie hul lede sal bevorder nie.

Soortgelyke plasings