AfriForum-teenboelieveldtog besoek Laerskool Florida


AfriForum het Laerskool Florida in Roodepoort op 23 April 2018 as deel van die burgerregte-organisasie se teenboelieveldtog besoek. Dié teenboelieveldtog dien as bewusmaking van afknouery in skole en sluit inligtingsessies met leerders, onderwysers en ouers in.

“Dit is vir AfriForum belangrik om saam met leerders, onderwysers en ouers te werk om ’n verskil te maak en afknouery in skole hok te slaan. Elke leerder wat die teenboeliepraatjie bywoon, word toegerus met die kennis om as leier in situasies op te tree waar afknouery plaasvind,” sê Leandie Bräsler, AfriForum se koördineerder vir leierskapsontwikkeling.

AfriForum, in samewerking met Manie Botha van die HeyLei-program, het ook tydens Laerskool Florida se teenboelieweek praatjies vir onderwysers en ouers aangebied. Die leerders kon aktief deelneem deur die wapenrusting van God uit te beeld: Leerders kon snaakse kouse dra om die skoene van vrede, interessante hoede om die helm van verlossing en interessante belde om die gordel van waarheid uit te beeld.

“By Laerskool Florida leef ons ons waardestelsel uit, want dit is die kompas wat ons skool in die regte rigting lei. Ons vyf waardes – eerlikheid, omgee, respek, trots en verdraagsaamheid – loop hand aan hand met die teenboelieveldtog. Ons wil kinders leer om hul medemens te respekteer en om vir mekaar om te gee, asook om verdraagsaam teenoor mekaar te wees,” verduidelik Renier van Eyssen, hoof van Laerskool Florida.
“Ek glo dit is uiters noodsaaklik om in jongmense te belê deur middel van opleiding, rigtinggewing en ondersteuning. Sodoende help ons nie net met die opheffing van vandag se leiers nie, maar ook dié van môre. Dit bly ’n voorreg om saam met ouers, onderwysers en die gemeenskap hande te vat om afknouery in skole hok te slaan,” sê Manie Botha van HeyLei.

Stuur ’n e-pos na boelie@afriforum.co.za indien jou kind se skool by hierdie veldtog en leierskapsontwikkeling betrokke wil raak.

Soortgelyke plasings