|

Plaasaanvallers gevonnis vir moord op Engelbrecht-egpaar

AfriForum en die organisasie se Trauma-ondersteuningseenheid verwelkom die vonnis wat regter David Makoba twee plaasaanvallers vandag in die Noord-Gautengse Hooggeregshof opgelê het. Die twee beskuldigdes, Julius Mapayi Goncalves en Jossias Nhalungo, albei van Mosambiek, is elk twee lewenslange vonnisse en 25 jaar opgelê vir die moord op Fanie (78) en Colleen Engelbrecht (74), asook vir roof met verswarende omstandighede en die besit van onwettige vuurwapens. Regter Makoba het hulle reeds op 7 Februarie 2020 skuldig bevind, maar die vonnisoplegging is egter uitgestel weens die COVID-19-pandemie.

Die Engelbrecht-egpaar is op Moedersdag in 2018 wreed op hulle plaas Welgevonden aan die Wes-Rand vermoor nadat hulle van die kerk af gekom het. Colleen is met ’n strykyster gebrand en met die koord verwurg en Fanie se keel is afgesny. Net ’n tabletrekenaar, selfoon, kontant en twee vuurwapens is gebuit.

Marius Muller, nasionale operasionele koördineerder by AfriForum, het vandag oor die wreedheid van plaasaanvalle getuig. Hy het verder getuig dat daar vanjaar reeds 169 plaasaanvalle en 23 plaasmoorde was.

“Ons is verlig oor die vonnis, alhoewel die hartseer nog ’n lang tyd by die familie sal wees. Ten spyte van die vonnis gaan ons steeds ’n pad saam met die familie stap en hulle ondersteun,” sê Magda Coetzee, trauma-ondersteuningsbeampte by AfriForum se Trauma-ondersteuningseenheid.

Soortgelyke plasings