|

Solidariteit Beweging stig noodfonds om kinders en bejaardes te help

 

Die Solidariteit Beweging se nuutgestigte noodfonds, wat hoofsaaklik gebruik sal word om kinders en bejaardes in nood te voed, het ’n hupstoot gekry met die Virseker Trust wat R1 miljoen aan die fonds geskenk het.

Die fonds sal ook gebruik word om te verseker dat leerlinge voortgesette onderrig tydens die COVID-19-krisis kry deur die Beweging se Skoleondersteuningsentrum (SOS) se Wolkskool en e-leerstelsel.

Die Beweging hou vandag (7 April)  ʼn reuse Helpmekaardag ten bate van die noodfonds en nooi almal om ’n bydrae te maak.

Flip Buys, voorsitter van die Solidariteit Beweging, het die skenking verwelkom. “Ons is baie bekommerd oor die maatskaplike krisis wat weens die koronakrisis gaan ontstaan. Dit is veral ouer mense en kinders wat dikwels die swaarste getref word. Talle mense se inkomste is oornag verminder. Ons doen ʼn beroep op groot en kleiner sakeondernemings om te help en vir dié ondernemings wat reeds help, soos die Virseker Trust, sê ons baie dankie.”

Kallie Kriel, uitvoerende hoof van AfriForum, sê dit is nou tyd vir saamstaan. “Ons het baie uitdagings in ons verlede oorkom en ons sal dit weer regkry. Maar daarvoor het ons ons mense se steun nou baie nodig.”

Daar is verskeie maniere hoe mense nou kan help. Hulle kan tot die Beweging se noodfonds bydra by (www.krisisfonds.co.za)  ’n skenking van R10 kan gemaak word deur Korona na 38310 te SMS. Die R10-skenkings sal gebruik word om handreiniger aan tehuise vir bejaardes, nooddienswerkers en mediese personeel te voorsien.

Kriel sê in die moeilike tye wat voorlê, kan mense ook bydra deur klein besighede te ondersteun. Besighede kan hulself ook gratis gaan lys by www.afriforumnetwerk.co.za. Meer as 3 000 ondernemings is reeds hier geregistreer.

Hannes Noëth, uitvoerende hoof van Solidariteit Helpende Hand, sê ‘n maatskaplike krisis volg op ‘n ekonomiese krisis. Die Helpende Hand het met sy Kosblikkieprojek reeds voor die COVID-19-krisis sowat 8 000 kleuters per dag met noodvoeding gehelp. “Hierdie getal neem nou daagliks toe, en Helpende Hand word oorval met versoeke vir hulp vir kwesbare groepe. Net in Maart het ons reeds R753 739 aan noodprojekte bestee, en daarom is die versterking van die noodfonds noodsaaklik,” sê Noëth.

Helpende Hand het ook landwyd skenkingspunte, Josef Silo’s, vir nie-bederfbare kos, bepaal. Duisende mense en spesifiek kinders wat voorheen hulp uit Helpende Hand se voedingsprojek gekry het, sal hierby baat. Hierdie hulp word deur die Helpende Hand se landwye netwerk van kantore en takke verleen. Inligting oor die skenkingspunte is beskikbaar by www.helpendehand.co.za

Die helfte van die Virseker Trust se skenking gaan vir maatskaplike hulp en spesifiek die Josef Silo’s gaan. Die ander helfte gaan vir die verdere ontwikkeling van die Wolkskool om toe te sien dat kinders nie met hul skoolwerk agter raak nie. Altesaam 53 000 leerlinge het reeds in die krisistyd vir Wolkskool geregistreer.

Dr. Dirk Hermann, bestuurshoof van Solidariteit, het die gemeenskap uitgedaag om minstens vir elke rand wat Virseker gee ook ʼn rand te gee. “Ons mag nie toelaat dat ons kwesbare groepe en kinders tydens die krisis swaarkry nie. Ons moet die honger na kos en hulp en die honger na kennis stil,” sê Hermann.

Hermann verwys ook na die Helpmekaardag wat op 10 November 1917 gehou is. “Ná die 1914-rebellie was die land deur absolute armoede en swaarkry getref. Veral die Vrystaters is swaar getref en op Bethlehem is besluit daar moet saamgedra en saamgewerk word om die nood te verlig. Dié besluit het later tot die stigting van die Helpmekaarbeweging gelei. Almal het ingespring en gehelp. ’n Bankrot boer het twee hoenders gegee met die woorde: ‘Ik is geheel uitgeboer en dit is alles wat ik kan gee.’”

Volgens Hermann word ons in 2020 getoets deur een van die grootste uitdagings nóg vir hierdie geslag. “Niemand weet hoe dit gaan uitspeel nie. Daar is instemming dat ons nog maar aan die begin van die krisis staan. Ons gaan almal swaarder kry en daarom moet ons mekaar help. Die staat gaan ons nie deur die krisis dra nie. Ons gaan mekaar moet dra,” sê Hermann.

Die noodfonds word deur Helpende Hand se ouditeure geoudit en ‘n spesiale oorsigkomitee sal sorg dra dat die geld reg aangewend word.

Soortgelyke plasings