|

STAAT SWIG VOOR DRUK DEUR AFRIFORUM EN SOLIDARITEIT OOR COVID-ENTSTOF

Deur Alet Rademeyer

Voorgenome regstappe deur Solidariteit en AfriForum het die regering gedwing om toe te gee dat hy geen statutêre raamwerk of mandaat het op die alleenverkryging, -aankoop en -verspreiding van COVID-19-entstowwe nie.

Die regering het onder eed in sy hofstukke erken dat daar geen wetlike beperking op die aankoop van COVID-19-entstowwe deur die privaatsektor is nie, hoewel dit duidelik is dat hy uit die staanspoor verwarring wou saai dat hy wel oor dié alleenreg beskik. AfriForum en Solidariteit meen enige wetlike uitsluiting van die privaatsektor met die aankoop van entstowwe is onwettig en ongrondwetlik.

Kallie Kriel, uitvoerende hoof van AfriForum, meen die regering se erkenning is ’n oorwinning vir almal in die land omdat die staat nie beheer oor gesondheid van mense kan hê nie. Hy het vandag op ’n nuuskonferensie in Centurion gesê: “Mense moet toegang tot gesondheidsorg van hul keuse hê. Daar is vier redes waarom ons nie kon toelaat dat die staat voortgaan met die sentralisering van die entstofprogram nie.

“Eerstens het die staat ’n geskiedenis van korrupsie en diefstal van belastingbetalers se geld moet deur desentralisasie beperk word. Tweedens is die staat eenvoudig onbevoeg om die proses op hul eie uit te voer. Dit is tragies, want as die skip sink, sink ons almal. Daarom is dit uiters noodsaaklik dat die privaatsektor ook aan boord moet wees. Derdens is dit nooit ’n goeie idee om al jou eiers in een mandjie te hê nie. Ons het gesien watter krisis ontstaan het met die aankoop van die AstraZeneca-entstof. In die laaste plek het ons gesien dat die regering die COVID-krisis wil gebruik as ’n proeflopie om met die nasionale gesondheidsversekeringsplan te eksperimenteer. Mense se lewens is nou op die spel en wat nou nodig is, is dat ander rolspelers eerder toetree om die krisis rondom entstowwe af te weer.”

Dr. Dirk Hermann, bestuurshoof van Solidariteit, sê dit is ’n oorwinning dat die staat gestop kon word met die nasionalisering van die entstofprogram. “Die regering wou die land bedrieg deur voor te gee dat die sentralisering van die proses en die uitsluiting van die privaatsektor die beste oplossing is. Die regering het geen wetlike raamwerk om die proses te sentraliseer nie, maar wou politieke mag gebruik om dit deur te voer. Met die oorwinning is die beginsel egter neergelê dat die staat nie mense se gesondheid sentraal kan beheer nie.”

Ernst van Zyl, veldtogbeampte: strategie en inhoud by AfriForum, meen dit is skokkend dat daar deurentyd geen deursigtigheid aan die kant van die regering was nie en dat organisasies hof toe moes gaan om ’n behoorlike antwoord uit die regering te kry oor wat hul magte ten opsigte van die entstofprogram wel is. Pres. Cyril Ramaphosa, dr. Zweli Mhize, minister van gesondheid, en ander amptenare het die publiek inderdaad ’n rat voor die oë probeer draai deur aan te voer dat die regering by magte is om die verkryging en verspreiding van COVID-entstowwe te sentraliseer.

Die weg is nou gebaan vir privaatverskaffers en verspreiders om by die COVID-19-enstofprogram betrokke te raak en te help om toe te sien dat meer mense ingeënt word.

Soortgelyke plasings