|

AfriForum en publiek sterk gekant teen BELA-wet by openbare raadplegingsessies

Die openbare raadplegingsessies oor die omstrede Wysigingswetsontwerp op Basiese Onderwyswette (ook bekend as die BELA-wet) het die afgelope naweek in Gauteng plaasgevind. AfriForum, Solidariteit, die Skoleondersteuningsentrum (SOS), ander organisasies en die publiek het sterk standpunt ingeneem teen hierdie konsepwet tydens die sessies in Pretoria, Johannesburg en Brakpan.

AfriForum-personeel, asook lede van AfriForum se takke in Roodepoort en Brakpan het tydens dié sessies hul kommer uitgespreek oor die ernstige bedreiging wat hierdie wet onder meer vir Afrikaanse moedertaalonderrig inhou.

“’n Oorweldigende aantal teenwoordiges het tydens hierdie sessies daarop gewys dat die konsepwet artikels bevat wat ’n ernstige bedreiging vir die toekoms van gehalte onderrig, asook gemeenskappe en ouers se besluitnemingsmagte oor hulle kinders se onderwys inhou,” sê Alana Bailey, AfriForum se hoof van Kultuursake.

Solidariteit voer aan dat die deurvoer van hierdie konsepwet die sentralisering van onderwys tot gevolg sal hê en beteken dit dat die magte van beheerliggame in skole geminag sal word.

Volgens Connie Mulder, hoof van Solidariteit se Navorsingsinstituut, is die regering besig om skole te kaap. “Die regering ignoreer met opset die mees toonaangewende navorsing oor die belangrikheid van moedertaalonderrig omdat hulle blindelingse vyandigheid teenoor ’n minderheid eerder wil laat seëvier.”

AfriForum het in November 2022 reeds ’n voorlegging in die parlement gedoen en petisies en skriftelike kommentaar is ook al ingedien. Die organisasie is van die begin af van mening dat hierdie konsepwet eerder geskrap moet word en dat daar van vooraf oor die hersiening van die bestaande skolewet besin moet word. Hierdie konsepwet gaan meer mag in die hande van die staat plaas deurdat die provinsiale onderwyshoofde ’n finale sê sal hê oor skole se toelatings- en taalbeleid pleks van die demokraties verkose ouerbeheerliggame.

“Dit is nou tyd om weer nuut oor skolewetgewing te dink eerder as om verder tyd en koste aan hierdie ideologies gelaaide, ongrondwetlike en verouderde konsepwet te wy. Die huidige samewerkingsmodel van skoolgemeenskappe en die staat moet beskerm word, so ook alle aspekte wat moedertaalonderrig kan bevorder,” sê Bailey.

Hierdie raadplegingsessies bied aan die publiek die geleentheid om standpunt teen hierdie wet in te neem en dit is uiters noodsaaklik dat belanghebbendes hulle so sterk as moontlik teen die konsepwet uitspreek om te voorkom dat dit in die huidige formaat aanvaar word.

AfriForum moedig mense daarom aan om hierdie raadplegingsessies by te woon. Hou hierdie webblad dop vir die datums waarop hierdie sessies vandeesweek in KwaZulu-Natal plaasvind. Die datums vir Kaap-provinsies sal ook sodra dit bekend is, hier aangedui word.

Soortgelyke plasings