| |

AFRIFORUM HELP HENNIE’S-EIENAAR OM DIEFSTALKLAGTES TEEN POLISIE IN TE DIEN NÁ ALKOHOLVOORRAAD VERDWYN

AfriForum se privaatvervolgingseenheid het vandag vir Werner Pretorius, die eienaar van Hennie’s Restaurant in Moreletapark, bygestaan om strafregtelike klagtes van bedrog en diefstal by die Garsfontein-polisiestasie in te dien teen verskeie polisiebeamptes by hierdie polisiestasie.

Dit volg nadat polisiebeamptes op ’n onregmatige en irrasionele wyse beslag gelê het op alkohol ter waarde van duisende rand by dié restaurant. Die beamptes het ook die restaurantbestuurder, Atrayo Nolte, onregmatig in hegtenis geneem op die bewering dat hy alkohol aan klante bedien het terwyl die verkoop van alkohol weens die inperkingsregulasies verbode was.

Die restaurant se alkoholvoorraad is dae lank deur die Garsfontein-polisiestasie in bewaring gehou, selfs nadat die Nasionale Vervolgingsgesag alle klagtes teen Nolte laat vaar het. Die voorraad is egter aan die restaurant terugbesorg ná die eienaar se eerste konsultasie met AfriForum se privaatvervolgingseenheid. Buiten dat van die voorraad vermis word, is sommige bottels drank se inhoud met tee vervang.

Adv. Gerrie Nel, hoof van die privaatvervolgingseenheid, sê dit is die soveelste geval van polisiemagsmisbruik waarby sy eenheid betrek word. “Verskeie slagoffers het ons nou al genader om hulp nadat hulle onregverdig en onbillik deur die polisie behandel is. Wat uiters skokkend is, is dat dit nie blyk of daar enige nagevolge is vir polisiebeamptes wat hulle skuldig maak aan kriminele optrede nie en dit kan nie geduld word nie.”

Die privaatvervolgingseenheid sal die polisie se hantering van die diefstalklagtes fyn dophou om te verseker dat daar teen die skuldige partye opgetree word.

Soortgelyke plasings