|

STRAFREGSTELSEL GROOT STRUIKELBLOK IN STRYD TEEN GESLAGSGEBASEERDE MISDAAD

Deur Jhua-Nine Wyrley-Birch

As daar nie daadwerklik ingegryp word om slagoffers van geslagsgebaseerde misdaad se vertroue in die strafregstelsel te herstel nie, gaan al hoe meer slagoffers ontmoedig word om sake aan te meld, terwyl al hoe meer oortreders skotvry daarvan af gaan kom.

Die land word jaarliks aangemoedig om deel te neem aan 16 dae van aktivisme teen geweld teen vroue en kinders en die president beloof herhaaldelik dat geslagsgebaseerde misdrywe geprioritiseer gaan word. Daar is selfs ’n reaksiefonds deur die privaat sektor op die been gebring om geslagsgeweld en moorde op vroue en kinders te beveg.

Dít alles beteken egter niks as staatsagentskappe en die howe nie óók hierdie tipe misdade met die nodige dringendheid en erns hanteer nie, sê Andrew Leask, hoofondersoeker by AfriForum se Privaatvervolgingseenheid wat tans vir Celeste Gouws, ’n slagoffer en privaatvervolger van Somerset-Oos, bystaan omdat die direkteur van openbare vervolging (DOV) in die Oos-Kaap geweier het om haar vermeende verkragter in 2017 te vervolg.

Gouws, wat eens ’n suksesvolle entrepreneur en gastehuiseienaar was, is na bewering in haar eie huis verkrag nadat sy vermoedelik deur een van haar verhuurders se vriende bedwelm is. Die saak is na AfriForum se Privaatvervolgingseenheid verwys nadat ’n prokureur op die dorp en ’n vriendin van Gouws geen antwoord op haar navrae gekry het oor waarom geen strafregtelike stappe teen die beskuldigde ingestel word nie.

“Ten spyte van ’n prima facie-saak en die feit dat die slagoffer onmiddellik ’n saak teen hom aanhangig gemaak het, is die verdagte, wat op ’n klag van verkragting en een van huisbraak met die doel om te verkrag  tereg staan, nooit eens vir die beweerde misdaad gearresteer nie. Die enigste afleiding wat ons kan maak ten opsigte van die DOV se weiering om te vervolg, is dat die beskuldigde weens sekere konneksies voorkeurbehandeling kry,” sê Leask.

Die verhoor sou aanvanklik op 23 Februarie 2021 begin, maar is tot 23 tot 26 Maart 2021 uitgestel omdat die beskuldigde aangedui het dat hy die dienste van advv. Dali Mpofu of Tembeka Ngcukaitobi wou bekom. Landdros Eric Mbiyo het egter gewaarsku dat die verhoor in Maart sal begin, ongeag of die beskuldigde sy gekose regspan het.

Adv. Gerrie Nel in die Somerset-Oos-streekhof. Foto: Jhua-Nine Wyrley-Birch.

AfriForum se vermoede dat die vermeende verkragter polities beskerm word, is egter deur gebeure by die hof op 23 Maart opnuut bevestig.

Volgens Leask het ’n groep mense, sommige geklee in ANC-T-hemde, die slagoffer en van AfriForum se ander getuies verhoed om die hof se perseel te betree. Die eenheid moes self eers ingryp voor die polisie ingetree het. Toe die verrigtinge afgeskop het, het die beskuldigde aanvanklik geweier om in die beskuldigdebank te verskyn. Sy regsverteenwoordiger (wat toe ene adv. Zama Somahela en nie Mpofu of Ngcukaitobi was nie) beweer dat hy die toerusting wat die privaatvervolgingspan in die hof opgestel het om CCTV-beeldmateriaal te wys met media-toerusting verwar het en dat hy nie deur die media blootgestel wou word nie.

Hy het die beskuldigdebank eers betree nadat landdros Mbiyo aangedui het dat sy weiering om te verskyn tot inhegtenisneming kan lei.

Die verhoor is toe vir ’n derde keer uitgestel omdat die beskuldigde weereens van regsverteenwoordigers verander het en sy nuwe regspan eers op hoogte met die saak moet kom. Adv. Gerrie Nel, hoof van AfriForum se Privaatvervolgingseenheid, het die aansoek om uitstel teengestaan, omdat die verhoor reeds vroeër uitgestel is en ’n sleutelgetuie in die saak aan die einde van Maart na Kanada emigreer. Hy het in die hof aangevoer dat die verdediging wil verhoed dat dié persoon se getuienis gelewer word omdat hulle weet hoe belangrik dit is. Hy het verder gesê dit blyk dat howe ’n gewoonte van uitstel gemaak het en dat die versuim om die getuienis aan te hoor onherstelbare skade aan die slagoffer se saak sal aanrig.

Volgens AfriForum is dit uiters teleurstellend dat ’n beskuldigde eenvoudig kan aanhou om die regsproses uit te stel sonder enige nagevolge. “Ons is baie teleurgesteld deur die hof se onvermoë om toe te sien dat sy eie reëls nagekom word. Ondanks die regering se voortdurende beloftes op Menseregtedag om geslagsgebaseerde geweld stop te sit, het hierdie uitstel van die saak weereens die onaanvaarbare situasie geskep waar die slagoffer die traumatiese  gebeure van die voorval moet herleef, aangesien die saak nie tot ’n punt kom nie,” het Leask gesê.

Gouws sê hoewel sy teleurgesteld is dat haar saak weer uitgestel is, gaan sy egter nie in sak en as sit nie. “Ek is nou, danksy my ondersteuningsbasis en die hulp van AfriForum, meer as ooit vasberade dat geregtigheid in die saak móét seëvier.”

Celeste Gouws in die hof. Foto: Jhua-Nine Wyrley-Birch.

Na raming sal byna 40% van Suid-Afrikaanse vroue in hul leeftyd verkrag word, terwyl slegs 1 uit elke 9 verkragtings aangemeld word.

Luidens ‘n verslag getiteld Rape Justice in South Africa, wat in 2017 deur die Mediese Navorsingsraad namens die nasionale vervolgingsgesag (NVG) opgestel is, blyk dit dat slegs 8% van verkragters wat voor die hof gebring word, skuldig bevind word. Dié navorsing is gedoen oor 3 952 verkragtingsake wat in 2012 aangemeld is. Voorts is bevind in 42,2% van die sake is geen arrestasies gemaak nie en in 23% van die verkragtingsake vir volwassenes is bewysstukke nie na die forensiese wetenskaplike laboratoriums gestuur nie.

Terselfdertyd toon die 2016/2017-jaarverslag van die NVG ’n skuldigbevindingskoers van 91,8% vir koperdiefstal. Dit beteken die kans dat iemand in Suid-Afrika aan koperdiefstal skuldig bevind sal word, is groter as dat iemand vir verkragting aan die pen sal ry.

AfriForum het ook verlede jaar ’n omvattende verslag, Serial Rape in South Africa, oor die verkragtingkrisis in Suid-Afrika gepubliseer. Dit is saamgestel uit nuusberigte, beskikbare data, navorsing deur verskeie instellings, hofsake en ander bronne. Die verslag identifiseer die tendense, die vernaamste motiewe en oortuigings agter die hoë syfers asook ’n lys van die gevaarlikste reeksverkragters in die land se geskiedenis. Voorts bespreek die verslag hoe die Suid-Afrikaanse regstelsel die probleem hanteer, en spesifiek die mate waartoe die regstelsel misluk.

Volgens Monique Taute, AfriForum se hoof van Veldtogte, misluk die Suid-Afrikaanse regering daarin om misdaad te bekamp, veral gewelddadige misdade soos verkragtings. “Die regering versuim om ’n voldoende kriminele regstelsel daar te stel en daar is geen dringendheid om drastiese maatreëls in te stel om misdaad te probeer hokslaan nie. Dit is duidelik dat al die stappe wat die regering reeds probeer doen het om die probleem aan te pak, slegs reaktief is.”

Lees die volledige verslag hier.

Soortgelyke plasings