|

AFRIFORUM SÊ WEG MET RASKWOTAS IN KRIEKET; AFRIGTING EN GERIEWE IS BELANGRIKER

Deur Marthinus Koekemoer

AfriForum is teen enige vorm van rassisme in die samelewing én in krieket gekant.

Só het Kallie Kriel, uitvoerende hoof van die burgerregtewaghond, vandeesweek in ’n mondelingse voorlegging by Krieket SA (KSA) se Social Justice and Nation Building- (SJN-)paneel gesê.

AfriForum is genooi om voor die paneel te verskyn nadat dié organisasie vroeër vanjaar ’n skriftelike voorlegging aan die SJN-komitee gemaak het.

Volgens Kriel moet die fokus wees om elke kind toegang tot goeie fasiliteite en afrigting te gee. Hierdie ideaal word egter in die wiele gery deur KSA wat onder regeringsdruk en politieke inmenging swig en rassisme deur middel van rassekwotas struktureel deel van Suid-Afrikaanse krieket maak, meen hy.

Kriel sê AfriForum is gekant teen rassisme en rassekwotas in sport. “Ons glo rassekwotas skend die waardigheid van spelers. Aan die een kant word wit spelers op grond van die kleur van hul vel nie gekies nie, maar aan die ander kant word talentvolle swart spelers as kwotaspelers gebrandmerk.

“Dit het al op skolevlak kop uitgesteek en die waardigheid van spelers tot op seniorvlak word steeds beïnvloed. AfriForum is oorval met briewe van ouers wie se kinders as gevolg van hul ras nie vir spanne gekies is nie en die trauma wat dit veroorsaak het, moenie geïgnoreer word nie,” sê Kriel.

Hy het ook verwys na die rassedebakel tydens die 2015-Wêreldbeker toe Kyle Abbott op grond van sy velkleur uit die Proteaspan vir die halfeindstryd weggelaat is. Abbott het hierna oorweeg om uit internasionale krieket uit te tree.

Kriel het ook verwys hoe die kwotastelsel eerder ongelykhede vergroot as om kinders van townshipskole ’n geleentheid te gee om te ontwikkel. “Kwotas word as ’n maklike uitweg gebruik om getalle op te maak, maar die spelers van kleur word grootliks uit gegoede privaatskole gekies wat geensins help om krieket in townshipskole te ontwikkel nie.

“Die Internasionale Krieketraad (IKR) se reëls verbied enige lidland om teen ’n speler op grond van ras, kleur, geloof, nasionale of etniese herkoms te diskrimineer. So ook mag ’n regering nie met die land se krieketbeheerraad se sake inmeng nie. Hieruit is dit duidelik dat KSA die IKR se reëls oortree.

“Die kwotastelsel is tans besig om krieket in Suid-Afrika lam te lê. Talent is nie tot sekere rasgroepe beperk nie en so kan die land spog met verskeie talentevolle spelers uit verskillende gemeenskappe, maar om hul talent ten volle te ontwikkel moet spelers teen die sterkste moontlike opponente meeding. Wanneer spanne nie op meriete gekies word nie, is dit nie wat gebeur nie en word die span en uiteindelik krieket in die land lamgelê,” sê Kriel.

Volgens Kriel het AfriForum as ’n alternatief tot die rasgedrewe kwotastelsel ’n sespuntplan vir sportontwikkeling. Dit sluit in:

  • Skep fasiliteite waar sport beoefen kan word. Munisipaliteite en plaaslikeregering sal ’n belangrike rol hierin moet speel.
  • Gee alle skole die geleentheid om sport aan te bied. Alhoewel die ou Model C-skole reeds verskeie sporte aanbied, is dit nie die geval by die oorgrote meerderheid van ander skole nie. As eerste stap om hierdie leemte te vul moet liggaamlike opvoeding weer by skole ingestel word.
  • Ontwikkel sterk jeugklubs daar waar skolesport nie moontlik is nie. Nie alle skole sal na-ure sport kan aanbied nie en jeugklubs kan hierdie leemte vul.
  • Sportbeheerrade moet afrigting van die hoogste gehalte verseker. Ná goeie fasiliteite ontwikkel is, kan afrigters geïdentifiseer en opgelei word en op hul beurt tot die ontwikkeling van sport bydra. Alhoewel sulke strukture wel reeds bestaan, moet dit verder uitgebou word.
  • Maak seker programme is volhoubaar wat dit makliker sal maak om borge te kry. Die skep van fasiliteite en strukture vir die langtermyn, in gemeenskappe waar dit nie voorheen beskikbaar was nie, sal ook borge makliker lok.
  • Bring ’n ontwikkelingskomitee op die been wat bestaan uit verskeie rolspelers wat bereid is om ’n bydra te maak. Hierdie komitee moet grootskaalse deelname aan sport aanmoedig en sal verseker dat die verantwoordelikheid nie vierkantig op die sportbeheerliggaam se skouers rus nie.

Ronald Peters, bestuurder van AfriForum Sport, sê indien AfriForum se sespuntplan vir sportontwikkeling toegepas word en politieke agendas vermy word, sal ware bemagtiging van gemeenskappe en mense kan plaasvind. “Sport het die vermoë om gemeenskappe saam te snoer, maar politieke inmenging in sport loop die risiko om gemeenskappe uitmekaar te jaag.”

Soortgelyke plasings