|

Forum Nuus: Dié Week se Blitsflits

AfriForum het vandeesweek sukses in die Hooggeregshof in Mbombela in Mpumalanga behaal en sodoende verseker dat inwoners van die Sunfield-tehuis in Balfour nie verskuif gaan word nie. AfriForum was genoodsaak om die hof te nader nadat die Departement van Maatskaplike Ontwikkeling die afgelope 14 jaar geweier het om dié tehuis se subsidiebedrag te verhoog. Die departement het ook gedreig om die staatsgesubsidieerde inwoners te verplaas. Die hof het beveel dat ’n advokaat as kurator ad litem vir die inwoners optree.

AfriForum se takke het ter viering van Boomplantmaand bome op verskeie plekke geplant. AfriForum se Noord van die berg-tak in Pretoria het 14 bome by ses skole in die omgewing geplant. Die takke in Vryburg en Delareyville het 12 bome by vier skole en die tehuis vir bejaardes in Delareyville geplant terwyl die tak in Mooinooi agt bome by Laerskool Elandskraal geplant het.

Die Mooinooi-tak het nadat hulle bome geplant het deur die strate geloop en rommel opgetel. Die tak en ander organisasies en ondernemings in die dorp het ook saamgewerk om slaggate met 1,5 ton teer te herstel.

Die Tswaing Plaaslike Munisipaliteit is verder op terme geplaas oor die voortslepende waterkrisis in Sannieshof, Delareyville en Ottosdal. AfriForum het ’n dringende beroep op die munisipaliteit gedoen om die probleem op te los en ’n werkbare aksieplan versoek om hierdie probleem in die toekoms te verhoed.

AfriForum se Brits-tak het ’n waentjie en fiets aan Thys Fourie (60) geskenk om sy daaglikse taak te vergemaklik. Fourie en sy boerboelkruising, Shelby, is bekend daarvoor dat hulle straatname en -nommers in die dorp verf en hy het buiten Shelby se kos en water ook nog die verf wat hy gebruik in sy rugsak gedra. Die tak hoop dat hierdie waentjie en fiets Fourie in staat gaan stel om meer produktief te wees wat sodoende ook sy inkomste sal verhoog.

In Bronkhorstspruit het die AfriForum-tak ter viering van Erfenisdag ’n kranslegging by die Slag van Bronkhorstspruit-monument op Klipeiland gehou.

Soortgelyke plasings