|

Strafregtelike klagtes en rehabilitasie deel van AfriForum se Vaalrivier-rampplan

Sowat 80% van Suid-Afrika se rioolaanlegte is wanfunksioneel of funksioneer glad nie en die regering stort daagliks omtrent 5 000 megaliter gedeeltelik behandelde of onbehandelde riool in riviere.

Só sê Marcus Pawson, AfriForum se hoof van omgewingsake, oor die voortslepende krisis rondom rioolwerke in Suid-Afrika.

Die besoedeling van die Vaalrivier het veral die afgelope paar maande in ’n ramp ontaard.

Rioolvuil, bloed en vullis vloei al maande lank by Parys in die Vaalrivier in en volgens inwoners is dit besig om toerisme op dié dorpie dood te maak.

Boonop is Parys se inwoners van die Vaalrivier vir hul drinkwater afhanklik.

Daarom het die burgerregte-waghond AfriForum vandeesweek hul plan om die rivier en die omgewing te rehabiliteer, bekendgemaak.

Die veldtog is van stapel gestuur in Parys, waar die Ngwathe Plaaslike Munisipaliteit jurisdiksie het, aangesien die ergste besoedeling hier sigbaar is.

Volgens Pawson behels die veldtog ’n innoverende inslag wat die huidige omgewingsramp gaan help beredder deur aktiewe (goeie) bakterieë in die water vry te laat om die riool af te breek en suurstof in die rivier terug te sit. Dit sal hopelik verhoed dat verdere fauna en flora vrek.

AfriForum het ook probeer om ’n memorandum en emmers vol besoedelde water uit die Vaalrivier met dooie visse, riool- en drinkwatermonsters (wat nie aan die nasionale standaarde voldoen nie) aan Bruce Kannemeyer, die munisipale bestuurder, te oorhandig. Hy het egter geweier om dit te aanvaar.

Mokiti Pele, water-en-sanitasiebestuurder van Ngwathe, was buite die gebou toe AfriForum die memorandum wou oorhandig en het volgehou die water wat van die wateraanleg in die Vaalrivier loop, skoon is.

AfriForum het ’n klag in terme van ’n oortreding van art. 151 van die Waterwet, wat bepaal dat die besoedeling van waterbronne ’n misdaad is, teen Kannemeyer by Parys se polisiestasie ingedien.

Volgens Stephen Nel, AfriForum se provinsiale koördineerder vir die sentraalstreek, gaan AfriForum ook binnekort sy blou-en-groendruppelverslag vir 2018 bekendstel en alle AfriForum-takke langs die Vaalrivier gaan soortgelyke aksies soos die in Parys in hul onderskeie dorpe aanpak.

Mediumtermynaksies sal ook fokus op die herstel van rioolpompe en aanlegte, wat die grootste bron van besoedeling is.

“AfriForum se langtermyndoelwit met hierdie projek is die skep van bekostigbare gemeenskapinfrastruktuur met die nuutste tegnologie sodat gemeenskappe self hul water kan suiwer sonder om op die regering te wag,” meen Nel.

Volgens Nel hoop AfriForum ook dat hierdie aksie sal lei tot beter kommunikasie deur die munisipaliteit en dat ’n aksieplan binnekort uitgevoer sal word om die situasie te verbeter.

Volgens die omgewingsgroep Save the Vaal is daar sowat 20 waterwerke van plaaslike munisipaliteite wat gedurig die Vaalrivier besoedel.

Herstelwerk aan die Sebokeng-rioolaanleg, wat die afgelope twee maande weens sabotasie stilstaan, het vandeesweek begin.

Sowat 80% van die rioolvuil wat sedert Mei in die Rietspruit en daarna by die Loch in die Vaalrivier stroom, kom van die Sebokeng-rioolaanleg.

Die koste van die herstelwerk gaan na raming tussen R10 miljoen en R20 miljoen beloop en dit gaan na verwagting nog sowat twee maande duur voordat die rioolaanleg weer ten volle in werking is.

Dit beteken dat rioolvuil vir nog minstens twee maande vanaf die Sebokeng-rioolaanleg in die Vaalrivier sal loop.

Soortgelyke plasings