|

Strand-tak tree pro-aktief op om gemeenskap teen brande te beskerm

Brande wat nie onder beheer gebring word nie kan verwoestend en selfs lewensgevaarlik wees. Onlangse voorvalle het opnuut beklemtoon hoe belangrik dit is om toegerus te wees met die nodige kennis en voorbereid te wees vir hierdie situasies. AfriForum se Strand-tak het juis daarom inisiatief geneem om brandopleiding vir hul buurtwaglede aan te bied.

Die tak het in samewerking met Fanus van Niekerk, wat etlike jare se ervaring het en vir die afgelope paar jaar betrokke is by Overberg Wildfire Volunteers, ’n omvattende opleidingsessie aangebied. Die opleiding het verskeie aspekte van brandbestuur behels om buurtwaglede yoe te rus met die vaardighede en kennis wat nodig is om verskillende soort brande doeltreffend onder beheer te bring en die impak daarvan te verlig.

Die opleidingsessie was suksesvol en 18 entoesiastiese individue het dié sessie bygewoon. Deur opleiding soos dié wil AfriForum die vermoëns van hul lede verbeter om sodoende by te dra tot ’n veiliger gemeenskap.

Die tak nooi lede van die gemeenskap uit om by hul strukture aan te sluit by www.wordlid.co.za en sodoende ’n daadwerklike verskil in hul gemeenskap te maak.

Soortgelyke plasings