|

AfriForum bring twee PAIA-aansoeke op een dag in Noord-Kaap

AfriForum het op 24 Augustus twee PAIA-aansoeke in die Noord-Kaap gebring. Hierdie aansoeke is onderskeidelik aan die Sol Plaatje Plaaslike Munisipaliteit in Kimberley en die Noord-Kaapse Departement van Landbou, Omgewingsake, Landelike Ontwikkeling en Grond Hervorming gerig.

“Ons vra dat die Sol Plaatje-munisipaliteit die langtermyn beplanningsdokument en ondernemingsplan vir water, van Bigen Africa, soos beloof in die vergadering van 2 Junie 2021, bekend sal maak. Ons vra ook dat die Noord-Kaapse Departement van Landbou, Omgewingsake, Landelike Ontwikkeling en Grond Hervorming die algemene vullisterreinlisensies aan ons sal stuur,” sê Lize-Mari van der Linden, AfriForum se distrikskoördineerder vir die Karoo.

“AfriForum rig beide aansoeke, want albei kwessies het ’n direkte impak op die gemeenskappe se basiese reg tot ’n skoon en veilige omgewing,” voeg Van der Linden by.

AfriForum is reeds vanaf Junie 2021 met die Sol Plaatje-munisipaliteit in gesprek oor die waterkwaliteit asook die lang wateronderbrekings waaronder die gemeenskap gebuk gaan.

Tydens ’n vergadering op 6 April 2022 het AfriForum dit weer onder die munisipaliteit se aandag gebring dat hulle steeds nie die waterplan of die ondernemingsplan van Bigen Africa aan AfriForum gestuur het nie.

AfriForum in die Noord-Kaap neem jaarliks aan verskeie nasionale projekte deel, insluitend die vullisterreinoudit en die blou-en-groendruppeltoetse.

Die tweede PAIA-aansoek is gebring nadat slegs 1 uit 18 vullisterreine in die Noord-Kaap vanjaar aan die basiese vereistes voldoen het. Kragtens toepaslike wetgewing en regulasies, waaronder die Wet op Nasionale Omgewingsbestuur: Vullis (Wet 59 van 2008), moet ’n vullisterrein aan bepaalde vereistes voldoen. AfriForum het vanjaar 162 vullisterreine as deel van dié organisasie se nasionale projek landwyd geoudit.

’n Basiese vereiste van die vullisterreinoudit is dat afskrifte van die lisensies op die betrokke terrein gehou moet word.

“Die direkteur van omgewings- en kwaliteitsbestuur het my ingelig dat alle munisipale vullisterreine in die Noord-Kaap gelisensieerd is en dat slegs die onwettige stortingsterreine nie lisensies het nie. Ná AfriForum se versoek vir  bewyse van die lisensies, het die direkteur AfriForum aangeraai om deur ’n PAIA-aansoek die inligting te bekom,” sê Van der Linden.

Die Sol Plaatje Plaaslike Munisipaliteit en die Noord-Kaapse Departement van Landbou, Omgewingsake, Landelike Ontwikkeling en Grond Hervorming het tot 4 Oktober 2022 geleentheid om op AfriForum se aansoek te reageer.

“Indien ons geen terugvoer teen 4 Oktober ontvang nie, sal ons die proses voortsit om die inligting te bekom,” sluit Van der Linden af.

Soortgelyke plasings