|

SUKSES: Johannesburg-metro se uitbuiting van skole deur belastingverhogings ongrondwetlik verklaar

AfriForum het sukses in die Hooggeregshof in Johannesburg behaal toe die hof die handeling van die Johannesburg Metropolitaanse Munisipaliteit om die eiendomskategorie van onderwysinstellings weg te neem, ongrondwetlik verklaar het.

“AfriForum beskou hierdie uitspraak as ’n groot oorwinning. In plaas daarvan om skole te teiken behoort die metro eerder saam met skole te werk. Ons sien verder dat die hof met hierdie bevel ook skole beskerm vir die volgende belastingjaar,” sê Alana Bailey, AfriForum se hoof van Kultuursake.

Hierdie regsaksie volg nadat die metroraad weggedoen het met ’n eiendomskategorie wat vir onderwysinstellings gegeld het. Die gevolg is dat openbare instellings voortaan in die kategorie vir openbare dienseiendom aangeslaan sal word en privaat skole as openbare ondernemings. Die belastingkoerse in dié kategorieë is drasties hoër, ongeag of privaat instellings daarvoor kwalifiseer om as organisasies sonder winsoogmerk erken te word en dus vir verligting in aanmerking kom.

Volgens Morné Mostert, AfriForum se bestuurder vir Plaaslikeregeringsake, is hierdie ook ’n boodskap aan munisipaliteite dat hulle gemeenskappe en instellings moet raadpleeg.  “Die metro kan nie ’n besluit afdwing as daar nie ’n behoorlike proses gevolg is nie.  Onderwysinstellings en gemeenskapsgebaseerde organisasies moet die geleentheid gegun word om voorstelle te maak, nie net omdat hierdie besluit ’n groot impak op grondwetlike regte gehad het nie maar ook omdat die voorstelle dalk die besluit om ’n meer rasionele uitweg kon stuur.”

Soortgelyke plasings