|

AfriForum sê wysigings aan BELA-wetsontwerp is woordgimnastiek wat nie moet bluf nie

AfriForum beskryf die sogenaamde toegewings deur die Departement van Basiese Onderwys aan die Wysigingswetsontwerp op Basiese Onderwyswette (beter bekend as die BELA-wetsontwerp) wat gister deur ’n meerderheid van die Nasionale Raad van Provinsies aanvaar is, as woordgimnastiek.

Volgens Alana Bailey, AfriForum se hoof vir Kultuursake, word AfriForum glad nie gerusgestel deur die wysigings nie. Sy noem dat die finale skriftelike konsep deeglik bestudeer sal word sodra dit beskikbaar raak met die oog op die regsroete wat AfriForum verder sal volg.

Die redes waarom AfriForum glad nie tevrede is met die wysigings soos wat dit gister bespreek is nie, sluit in dat:

  • Die onderwyshoofde steeds die finale sê oor taal- en toelatingsbeleide sal hê. “Dat oorlegpleging met die amptenary sal geskied, is redelik betekenisloos. Ons het gesien hoe lede van die Parlementêre Portefeuljekomitee vir Basiese Onderwys enkele maande gelede gedwing moes word om alle openbare insette in ag te neem. Oorlegpleging word dikwels as oëverblindery gebruik om die illusie te skep dat die openbare mening in ag geneem word, terwyl die ANC voortbeur op hulle ideologiese weg. Soms is dit ook ’n boelieproses om personeel en beheerliggame te probeer dwing om enkelmedium Afrikaanse skole te laat omskakel na parallel- of dubbelmedium skole,” sê sy.
  • Al sou oorlegpleging in goedertrou plaasvind, is daar nog geen aanduiding wat sal gebeur as konsensus nie bereik word nie. In die verlede was regsaksie nodig wat skole uit ouers se sakke moet befonds, terwyl die regering belastingbetalers se eie geld teen hulle kan inspan.
  • Suksesvolle enkelmedium Afrikaanse skole berig deurentyd aan AfriForum dat hulle onder voortdurende druk van amptenare is om leerders te aanvaar wat Engelse onderrig verlang. Bailey noem dat sy van geen enkelmedium Engelse skool bewus is wat dieselfde druk ervaar om Afrikaanse onderrig te akkommodeer nie.
  • Strooipoppe word opgestel met vertellinge oor skole wat beleide kwaadwillig en rassisties gebruik om leerders uit te sluit. Dit was gister weer deel van Elleck Nchabeleng, ANC-LP en komiteevoorsitter, se kommentaar. AfriForum en verskeie ander organisasies en individue het al herhaaldelik gevra vir besonderhede van sodanige skole sodat hulle vasgevat kan word. Nog geen skool is deur die departement geïdentifiseer nie.
  • Die huidige Suid-Afrikaanse Skolewet bevat duidelike voorskrifte oor hoe teen skole wat sodanig handel, opgetree kan word. Nuwe wetgewing is glad nie nodig om diskriminerende beheerliggame in die bek te ruk nie. Dit laat die vraag ontstaan wat die rede vir klousules 4 en 5 in die BELA-konsepwet is.
  • Nchabeleng se kommentaar en verwysings na apartheid maak dit weer eens baie duidelik dat die ANC ’n agenda van vergelding teen Afrikaanssprekendes probeer dryf en glad nie hierdie klousules geskep het om gehalte onderrig te bevorder nie.
  • Ten slotte is dit ook kommerwekkend dat geen verdere regstellings nog gemaak is oor die etlike ander besware wat die publiek teen die BELA-wetsontwerp lug nie, insluitend bekostigbaarheid en druk op tuis- en mikroskole.
  • Die feit dat Noordwes se verteenwoordiger gister nie opgedaag het nie, skep kommer oor die erns met onderwys in die provinsie. Dat die Wes-Kaap ook steeds standpunt teen BELA inneem, bewys nogeens dat die toegewings geensins die wetsontwerp meer aanvaarbaar maak nie en dat onderwyskundiges in dié provinsie nie deur die woordgimnastiek gebluf word nie.

AfriForum hou by die voorneme om die BELA-wetsontwerp teen te staan solank dit ’n bedreiging vir die voortbestaan van Afrikaanse skole en gehalte onderrig inhou. Die publiek kan hulle mandaat vir AfriForum in hierdie verband gee by www.stopbela.co.za.

Soortgelyke plasings