AfriForum bring appèlaansoek om te verhoed dat bestuurslisensiekaarte elke vyf jaar verval

Die burgerregteorganisasie AfriForum het in die Hooggeregshof in Pretoria aansoek gedoen om verlof tot appèl teen die uitspraak dat die geldigheidstydperk van bestuurslisensiekaarte nie hersien moet word nie. AfriForum poog hierdeur om te verhoed dat padgebruikers beboet word wat nie betyds hernude bestuurslisensiekaarte kon bekom nie.

Waarnemende regter JJ Strijdom het op 30 Oktober AfriForum se aanvanklike hersieningsaansoek van die hand gewys. Die uitspraak het gestel dat daar binne 180 dae nadat die aanvanklike regulasie rondom die geldigheidstydperk van bestuurslisensiekaarte uitgevaardig is, ’n hersieningsaansoek gebring moes word. AfriForum se regspan voer egter in hul appèlaansoek aan dat daar voldoende meriete is om tans wel ’n hersieningsaansoek te bring, omdat die tersaaklike regulasie nie strook met die Nasionale Padverkeerswet en die Grondwet nie.

Volgens Louis Boshoff, veldtogbeampte by AfriForum, wil die Departement van Vervoer regulasies afdwing wat in baie gevalle nie moontlik is om na te kom nie. AfriForum het verskeie klagtes ontvang van individue wat nie betyds hul hernude bestuurslisensiekaarte van die Departement van Vervoer ontvang nie. Dit lei daartoe dat hulle beboet word ten spyte van elke poging om wettig gelisensieer te bly. Dié departement se lisensiekaartdrukker het die afgelope paar jaar dikwels onklaar geraak en dit is duidelik dat lisensies steeds vinniger verval as wat nuwes gedruk word.

“Suid-Afrikaanse padgebruikers weet hoe dit voel om as gevolg van ’n gebreekte drukker beboet te word,” verduidelik Boshoff. “As die Departement van Vervoer nie bestuurslisensiekaarte kan druk nie, moet hulle ook nie boetes vir vervalde bestuurslisensiekaarte druk nie – die onreg is ooglopend.”

Soortgelyke plasings