|

Vullisverwyderingsvoertuie aangeskaf danksy AfriForum se volgehoue druk

Die Ekurhuleni-metro het vroeër die week, weens onverpoosde druk vanaf AfriForum-takke in die area, aangekondig dat dié munisipaliteit vullisverwyderingsvoertuie gaan huur as deel van ’n projek om die agterstand van vullisverwydering te takel.

Dit volg nadat AfriForum die munisipaliteit verskeie kere gekontak het oor klagtes van die gemeenskap oor die agterstand en swak dienslewering van vullisverwydering. AfriForum se takke in Kempton Park en Springs se regspan het daarna op 2 Februarie ’n aanmaning aan die Ekurhuleni Metropolitaanse Munisipaliteit oorhandig waarin vereis is dat die munisipaliteit die swak dienslewering van vullisverwydering oplos en ’n aksieplan voorlê.

Die munisipaliteit het 36 vullisverwyderingsvoertuie gehuur wat die munisipaliteit se vloot weer tot volle kapasiteit sal aanvul en skedules vir vullisverwydering is uiteengesit om die agterstand in te haal. Die burgemeester van die Ekuruhleni-metro, Tania Campbell, het op Maandag 27 Februarie ontvangs van die toerusting geneem.

“AfriForum verwelkom hierdie inisiatief en ondersteun die projek,” sê Jurie Ferreira, distrikskoördineerder vir die Oos-Rand.

“Die Wet op Plaaslike Regering Munisipale Stelsels 32 van 2000 vereis dat afvalbestuursdienste op ’n finansieel en omgewingsverantwoordelike manier aan alle plaaslike gemeenskappe gelewer word om die toeganklikheid van basiese dienste en volhoubare afvalbestuur te bevorder. AfriForum sal afvalbestuur in die Oos-Rand moniteer deur druk op die munisipaliteit te plaas sodat die gemeenskap die dienste ontvang waarop hulle geregtig is,”  sê Petrus Coetzee, raadgewer vir Plaaslikeregeringsake by AfriForum.

Om betrokke te raak, of om aan te sluit: SMS “Kempton Park”, of “Springs“ na 45340 (R1) en word deel van die oplossing.

Soortgelyke plasings