|

Taal Tel – Lekker Luister bied stories vir verbeeldingsreise in Afrikaans

Enkele weke gelede het ons die eerste keer van Lekker Luister gehoor. Dit bied aan kinders ’n heerlike geleentheid om hulle verbeelding te ontwikkel terwyl hulle na pragtige stories in Afrikaans luister.

Christelle Webb-Joubert en Juanita de Villiers is die twee uiteenlopende, kreatiewe mense agter Lekker Luister. Hulle vul mekaar besonder goed aan en sê glo gereeld vir mekaar dat hulle Lekker Luister nie sonder mekaar sou kon doen nie. Hulle bring elkeen unieke vaardighede na die tafel. Christelle is die rots en fondament van die onderneming en Juanita is die boublokke daarop! Hulle het ’n paar vrae oor hoe hulle te werk gaan vir die tweede Taal Tel-blog beantwoord.

Christelle en Juanita, julle is die skeppers van Lekker Luister. Wat is dit?

Lekker Luister is oudiostories vir kinders. Daar is verskillende genres, stories wat lewenslesse leer en sommer ook net vermaak. Dit is gedramatiseerde stories wat kinders wegvoer, en toelaat om vir daardie paar minute in hulle eie verbeelding die spesifieke wêreld met sy karakters te skep.

Wat maak dit anders as ander potgooie vir kinders?

Dit is nie net gewone voorlesings nie. Elke karakter word vertolk deur ’n ander stemkunstenaar, en daar is musiek en byklanke om die stories in te kleur en lewe te gee.

Waarom dink julle is dit belangrik vir kinders om na stories te luister, in plaas van daarna te kyk?

Ons kinders word so gebombardeer met visuele stimulasie, met die gevolg dat hulle verleer het om te luister. Ons wil graag deur middel van ons stories help met luistervaardighede en gehoorontwikkeling ‒ op ’n prettige manier. Dit help ook om hulle woordeskat uit te brei en hulle taalvaardighede te ontwikkel.

Navorsing bewys juis dat kinders sukkel om lank aandag te gee, of met aandag en begrip te lees of te luister. Julle stories bied dus belangrike ontwikkelingsgeleenthede aan. Wie is julle teikengehoor?

Ons teikengehoor is kinders tussen drie en 13 jaar. Daar is ’n groot verskeidenheid van stories wat onder meer lengte, genres en temas aanbetref, daarom kan ouers of onderwysers self besluit na watter stories hulle kinders kan luister.

Waar kry julle die stories?

Ons gebruik stories van skrywers waarop daar nie kopieregte is nie. Christelle verwerk dan die stories. Sy skryf ook van ons stories en dan het ons verder ’n spelterapeut, Jacolene du Plooy, wat vir ons skryf. Ons het ook al aan aspirantskrywers die geleentheid gegee om vir ons te skryf.

Hoeveel stories is reeds beskikbaar?

Daar is ’n wonderlike biblioteek van meer as 115 stories op ons webtuiste.

Hoe gereeld raak nuwe stories beskikbaar?

Elke Vrydag plaas ons ’n nuwe storie op ons webtuiste. Op YouTube laai ons gereeld nuwe stories. Gaan kyk gerus en teken in sodat jy ’n kennisgewing kan kry sodra daar ’n nuwe storie gelaai word.

Waarom het julle besluit om dit juis in Afrikaans te doen?

Afrikaans is ons taal en ons al twee besef dit is hoe ons ons taal lewend kan hou. Ons glo ook om stories in jou eie taal te hoor, bevorder jou emosionele en sosiale vaardighede. Jou begrip is beter en die lesse word beter geleer.

Wat is julle toekomsplanne met die projek?

Ons wil graag aanhou groei, ongelooflike stories opneem en met ons kinders deel. Hopelik ontdek ons nog wonderlike skrywers wat hulle stories met ons wil deel. Daar is ook ’n visuele aspek in die pyplyn waaraan ons werk.

Hoe kan mense by Lekker Luister inskakel?

Ons het ’n webtuiste, www.lekkerluister.co.za, asook ’n toepassing. Enigeen kan maandeliks of jaarliks inteken. Van ons stories is ook op YouTube gelaai.

Soortgelyke plasings