|

Privaatvervolgingseenheid reik dagvaarding uit teen Jaco Swart in nuwe geslagsgebaseerde geweld-saak

’n Dagvaarding is teen die veroordeelde vroueslaner Jaco Swart uitgereik om op 14 Augustus in die hof te verskyn op ’n nuwe aanklagte van aanranding, hierdie keer teen ’n polisievrou. Dit is egter onwaarskynlik dat hy sal verskyn omdat hy nêrens in die land gevind kan word sodat die dagvaarding aan hom beteken kan word nie. AfriForum se privaatvervolgingseenheid verteenwoordig adjudant-offisier Sonja Albertyn in hierdie aangeleentheid.

Swart het verlede jaar skuldig gepleit op die aanranding van sy vrou Nicoleen Swart, beeldmateriaal het aan die lig gekom waarin gesien kan word hoe Swart sy vrou wreedaardig skop, slaan en rond stamp.

Die polisie het onlangs probeer om ’n dagvaarding aan Swart te beteken in verband met ’n bedrogsaak wat in Sinoville in Pretoria geregistreer is, maar hy kon nie opgespoor word nie en is glo in die Verenigde Koninkryk (VK). Die eenheid verteenwoordig ook die klaer in daardie saak. Nou word Swart daarvan aangekla dat hy Albertyn aangerand het met die doel om ernstig te beseer.

Daar was na bewering ’n voorval die oggend van 13 Januarie 2022 toe Albertyn se buurvrou haar om hulp gevra het omdat haar vriend, Swart, na bewering dronk was ná ’n aand uit en geweier het om haar woonstel te verlaat. Swart het in ’n stadium na bewering die veiligheidshek gesluit en die vrou verhinder om haar woonstel te verlaat. Albertyn het haar hand deur die veiligheidshek gedruk en Swart aangesê om nie die deur toe te maak nie. Ten spyte hiervan en met die wete dat sy ’n polisiebeampte was, het hy na bewering geweld gebruik en die deur op haar arm toegeslaan en ’n sening beskadig. Albertyn het polisiebystand ontbied en Swart het uiteindelik die eiendom verlaat.

Albertyn het ’n strafregtelike klag teen Swart by die Brackenfell-polisiestasie, met CAS-nommer 141/01/2022, ingedien. Adv. Nicolette Bell, die Direkteur van Openbare Vervolging in die Wes-Kaap, het die nolle prosequi-sertifikaat op 26 Mei 2023 uitgereik. Ingevolge die toepaslike wetgewing is daar ’n tydperk van drie maande waarbinne die private vervolging teen ’n beskuldigde ingestel moet word, vandaar die dagvaarding wat op 9 Junie 2023 by die Kuilsrivier Landdroshof aangevra en uitgereik is.

Die eenheid het van ’n betroubare bron verneem dat Swart Suid-Afrika verlaat het en nou in die VK woon, waar hy na bewering onwettig werk. Die eenheid se eie ondersoek en geo-ligging van foto’s wat Swart onlangs op sosiale media geplaas het, dui verder aan dat hy in die VK is.

Enigiemand met inligting oor die presiese plek waar Swart tans woon, word versoek om asseblief die inligting aan onsvervolg@afriforum.co.za te stuur.

Soortgelyke plasings