| |

AfriForum verwelkom NVG se vervolging van Malema

AfriForum verwelkom die Nasionale Vervolgingsgesag (NVG) se aankondiging dat hulle Julius Malema, leier van die EFF, gaan vervolg vir beweerde misdade ingevolge die Wet op die Beheer van Vuurwapens ná volgehoue druk deur die burgerregte-organisasie.

Die NVG se besluit volg nadat AfriForum in Julie vanjaar aangekondig het dat die burgerregte-organisasie ’n mandamus-aansoek in die hof gaan bring om die NVG te verplig om besluite te neem oor die vervolging van Malema rakende hierdie, asook twee ander hangende sake teen hom.

AfriForum het in Augustus 2018 klagtes by die Lyttelton-polisiestasie teen Malema ingedien nadat hy tydens die EFF se vyfjaarfeesvieringe in Mdantsane in die Oos-Kaap verskeie skote met ’n aanvalsgeweer afgevuur het.

“Dit is hoogtyd dat die NVG Malema vir sy wettelose optrede vervolg. As AfriForum nie die klagtes teen Malema aanhangig gemaak het en druk op die NVG uitgeoefen het om hom te vervolg nie, sou hy bloot daarmee weggekom het. Malema is ’n politieke figuur en sy beweerde misdadige optrede, asook die feit dat hy oënskynlik tot dusver daarmee wegkom, het reeds daartoe gelei dat die afvuur van skote landwyd nagedoen word,” sê Ian Cameron, AfriForum se hoof van gemeenskapsveiligheid.

“AfriForum sou nie daarop aangedring het dat Malema vervolg moet word as daar nie wesenlike feite was dat hy ernstige wetsoortredings begaan het nie. Sy dade is die rede waarom hy vervolg moet word,” sê Marnus Kamfer, AfriForum se regs-en-risikobestuurder.

Volgens adv. Gerrie Nel, hoof van AfriForum se privaatvervolgingseenheid, wag AfriForum nog vir die NVG om te besluit of hulle Malema ook gaan vervolg op die On Point- en aanrandingsaak. “Ons sal doen wat dit verg om vervolgings in hierdie sake te laat geskied,” sê adv. Nel.

Soortgelyke plasings