|

Tehuis kry kratte vol spinasie ná Bethal-tak groot oes

Die groentetuin wat sedert 2021 groot oeste vir AfriForum se Bethal-tak oplewer, het vandeesmaand gespog met nóg ’n indrukwekkende oes. Dié tak het verlede week 100 kg spinasie uit hierdie gemeenskapstuin geoes en dit aan die Silwerjare Tehuis vir bejaardes geskenk. Hierdie oes kom slegs ’n maand nadat dieselfde hoeveelheid spinasie uit die gemeenskapstuin geoes en aan die Bethal-sopkombuis geskenk is.

Dié groentetuinprojek voorsien weekliks meer as 80 gesinne van vars groente. Dit het boonop vanjaar ’n groot oes tamaties opgelewer, wat die tak in staat gestel het om onlangs meer as 300 kg tamaties aan die gemeenskap te skenk.

“Die gemeenskap word deur hierdie groentetuin aangemoedig om selfstandig te word en AfriForum se Bethal-tak is trots daarop om ’n aandeel hierin te hê,” sê Marilé Nieuwoudt, koördineerder van AfriForum se Bethal-groentetuinprojek.

Soortgelyke plasings