|

Vier voormalige munisipale bestuurders van Moqhaka in hof oor rioolstorting

Die voormalige munisipale bestuurder van die Moqhaka Plaaslike Munisipaliteit, Sonnyboy Mokgatle, en drie ander voormalige bestuurders van dié munisipaliteit het op 2 Junie 2022 in die Kroonstad Landdroshof verskyn op aanklagtes van rioolbesoedeling. Hierdie ondersoek kom al sedert 1 November 2019 nadat die gemeenskapsorganisasie, Moqhaka for the people (MFP), ’n strafregtelike klagte teen Mokgatle geopen het vir die storting van rou riool. MFP het voorheen ook strafregtelike klagtes teen die ander drie voormalige munisipale bestuurders ingedien vir rioolbesoedeling.

Sedertdien AfriForum op 19 Mei 2022 ook ’n strafregtelike klagte teen Mokgatle ingedien het vir rioolbesoedeling, het hy sy eerste verskyning in die hof gemaak. Die saak teen Mokgatle is by dié van die ander drie beskuldigdes gevoeg wat in verband met dieselfde klagtes verskyn het. Mokgatle het kort na AfriForum se strafregtelike klagte ingedien is as munisipale bestuurder bedank.

Mokgatle se regsverteenwoordiger het aan die hof gesê dat sy kliënt geensins meer by die munisipaliteit betrokke is nie. AfriForum is egter van mening dat dit ’n taktiek is om aanspreeklikheid te vermy. Die betrokke wetgewing is egter duidelik dat persoonlike aanspreeklikheid vir die nienakoming van pligte vereis word en daarom is die klagte teen Mokgatle in sy persoonlike hoedanigheid ingedien en nié teen die munisipaliteit nie.

Die Groen Skerpioene ondersoek die sake teen die beskuldigdes. Omdat die sake dieselfde oorsprong het en munisipale bestuurders oor ’n geruime tyd nou al bedank het of oorgeplaas word na ander munisipaliteite om aanspreeklikheid te probeer vermy, is daar nou vier beskuldigdes in hierdie saak. Die saak is uitgestel na 4 Julie 2022 sodat die streekhofaanklaer die inhoud van hierdie sake kan oorweeg en daarna kan die saak oorgeplaas word na die Streekhof waar die verhoor sal plaasvind.

AfriForum en die MFP-gemeenskapsorganisasie probeer al vir jare om die rioolprobleme op te los, maar het geen samewerking vanaf die munisipaliteit gekry nie. MFP het selfs ’n kundigeverslag aan die munisipaliteit gestuur met voorstelle oor hoe om die rioolwerke weer op standaard te kry, maar dit was glo van die hand gewys. In September 2021 het verskeie regeringsleiers Kroonstad besoek om die omvang van die probleem te ondersoek en aandag daaraan te skenk. Adj.pres. David Mabuza, die Vrystaatse premier, die minister van Water en Sanitasie, die departementshoof van Cogta en ander leiers was daar om oplossings te vind, maar sedert die besoek het nog niks verander nie.

Volgens Spiro Khoury, die voorsitter van MFP, funksioneer minder as 40% van Kroonstad se rioolwerke en benadeel dit die gesondheid en lewenskwaliteit van inwoners. “Die rou riool wat gestort word, besoedel die Vals- en die Vaalrivier. Geen chloor word gebruik om die water te behandel nie en van die rioolwerke is wanfunksioneel. Die rioolprobleme landwyd is besig om op ’n nasionale krisis af te stuur.”

Chris Morgan, AfriForum se distrikskoördineerder vir die Hoogland, sê hy is bly dat die persone wat glo verantwoordelik is vir die besoedeling uiteindelik in die hof verskyn. “Rou riool wat uitvloei in ’n openbare area of die omgewing besoedel is teen die wet en ’n strafregtelike oortreding. Daarom eis ons dat hierdie voormalige munisipale bestuurders in hul persoonlike hoedanigheid aanspreeklik gehou word. Hulle was bewus van die probleem en het ook die geleentheid gehad om saam te werk om dit op te los, maar het eerder gekies om niks daaraan te doen nie en daarom moet hulle vervolg word.”

Verder het Morgan ook bygevoeg die taktiek van munisipale amptenare om van pos of munisipaliteit te verander om geregtigheid te ontduik, onregmatig is. “Die taktiek wat gebruik word deur munisipale amptenare om van amp of munisipaliteit te verskuif elke keer as die water warm word, is slinks. Die sake word geopen teen die persoon self en nie teen die munisipaliteit nie. Daarom is ons bly om al die beskuldigdes in die hof te sien. Ons hoop dat hierdie saak ’n voorbeeld sal wees vir ander sake sodat munisipale amptenare verantwoordelik gehou kan word vir swak en nalatige bestuur.”

AfriForum gaan die saak noukeurig volg om toe te sien dat geregtigheid geskied.

Raak vandag nog by AfriForum betrokke. Jy kan help om probleme in jou omgewing op te los: SMS “Kroonstad” na 45344 (R1).

Soortgelyke plasings