|

Privaatvervolgingseenheid eis antwoorde van NVG oor Jiba

AfriForum se privaatvervolgingseenheid het in ’n brief aan adv. Shamila Batohi, die Nasionale Direkteur van Openbare Vervolging (NDOV), antwoorde geëis oor waarom die Nasionale Vervolgingsgesag (NVG) luidens stellings in die media ’n skynbare ommekeer gemaak het oor die vervolging van Nomgcobo Jiba, voormalige NVG-hoof, vir bedrog en meineed. Soos wat dit nou die gebruik is met staatsdepartemente, het die privaatvervolgingseenheid slegs ’n ontvangserkenning ontvang, maar geen behoorlike antwoord nie. Dié skrywe is reeds op 3 September 2020 aan die NVG versend.

Dit volg nadat die NVG AfriForum in Maart vanjaar skriftelik in kennis gestel het dat ’n besluit geneem is om Jiba te vervolg. AfriForum en adv. Gerrie Nel, hoof van AfriForum se privaatvervolgingseenheid, het die NVG in November 2019 met ’n mandamusaansoek gedreig om ’n besluit oor die vervolging van Jiba te neem rakende strafregtelike klagtes wat genl. Johan Booysen, voormalige hoof van die Valke in KwaZulu-Natal, teen haar ingedien het. Die privaatvervolgingseenheid het ook ’n geruime tyd gelede reeds aangekondig dat hy Jiba privaat wil vervolg. Volgens onlangse mediaberigte het die Ondersoekdirektoraat (OD) nou egter versoek dat die vervolging van Jiba nie voortgaan nie ten einde hulle in staat te stel om die “breër kwessies” te verstaan en dat hierdie kwessies eers gefinaliseer moet word voordat ’n besluit oor die vervolging van Jiba geneem word.

Volgens adv. Nel is dit kommerwekkend dat die NVG se kommunikasie aan die publiek die indruk skep dat die OD die Direkteur van Openbare Vervolgings in Pretoria (DOV) se besluit om te vervolg, kan herroep of wysig. “Dit is nie die geval nie, die finale besluit rakende die instel van vervolging berus by die slegs by die DOV. Die afleiding wat gemaak kan word, is dat die stap bloot nog ’n vertragingstegniek is om te verhoed dat die saak uiteindelik verhoor word.”

Die NVG versuim, ook met hierdie verdere vertraging, om uitvoering te gee aan die Noord-Gautengse Hooggeregshof se bevel in Freedom Under Law v NDPP dat die saak teen Jiba weer op die rol geplaas moet word. Shaun Abrahams, voormalige NDOV, se besluit om die vervolging van Jiba te laat vaar, is tereg deur die DOV herroep. “Dit blyk egter nou dat die NVG hierdie beslissing bloot ignoreer,” sê adv. Nel.

Volgens AfriForum is die klagtes van bedrog en meineed wat genl. Booysen in KwaZulu-Natal, teen Jiba ingedien het, slegs van toepassing op me. Jiba as individu. “Die NVG se skynbare besluit om die omvang van die ondersoek uit te brei, blyk dus slegs ten doel te hê om ’n relatief eenvoudige saak onnodig te kompliseer en die vervolging van Jiba verder te vertraag of selfs te skrap.”

Soortgelyke plasings