|

TIENTALLE BOSSE BLOMME GELÊ OM PLAASMOORDSLAGOFFERS TE GEDENK

Deur Alet Rademeyer

AfriForum het vanoggend Vrystaat Landbou se kransleggingsinisiatief vir die slagoffers van plaasmoorde ondersteun deur ook by sy hoofkantoor blomme te lê by ’n banier met die name van meer as 40 mense wat sedert die begin van die jaar in aanvalle vermoor is.

Vrystaat Landbou en boereverenigings het ’n beroep op mense gedoen om vandag ’n kranslegging by die hof te hou waar die vermeende moordenaars van Pieter en Eddie Hills moet verskyn.

Pieter is vroeër vandeesmaand in sy plaashuis buite Hennenman geskiet en Eddie is kort daarna in ’n Johannesburgse hospitaal aan sy beserings dood.

Daar was sedert die begin van die jaar 332 plaasaanvalle en 47 moorde.

Marnus Kamfer, regs-en-risikobestuurder van Gemeenskapsveiligheid by AfriForum, sê dit is ’n voorreg om Vrystaat Landbou se inisiatief te ondersteun. “’n Mens staan met ’n bittersoet gevoel by ’n kranslegging. Bitter omdat niks ooit die afgestorwenes, wat wreed van hul geliefdes weggeruk is, kan terugbring nie. Soet omdat mense die slagoffers se name onthou en nie sal toelaat dat hulle net blote statistieke word nie. Hulle het die hoogste prys betaal, maar met so ’n gebaar wys ons dat hulle nie vergeet sal word nie.”

Kamfer sê AfriForum sal voortgaan om teen plaasmoorde te veg. Die organisasie sal ook aanhou om sy veiligheidstrukture, waarvan daar nou 161 is, uit te bou. “Ons sal voortgaan om die strukture op te lei, uit te rus en te besiel om aan te hou werk om hul gemeenskappe veilig te hou.”

Hy bedank elke AfriForum-lid vir hul ondersteuning wat dit moontlik maak om die stryd voort te sit. “Ons sal nie moeg word nie en aanhou om ’n verskil te maak.”

Hennie Human, ’n trauma-ondersteuner by AfriForum se Trauma-eenheid, het die verrigtinge met gebed afgesluit.

*Foto’s: Marthinus Koekemer en Jhua-Nine Wyrley-Birch.

Soortgelyke plasings