|

Tweede agtereenvolgende jaar wat geen Noord-Kaapse vullisterreine AfriForum-oudit slaag nie

AfriForum het landwyd 189 vullisterreine geoudit om die huidige toestand van munisipale en private vullisterreine in Suid-Afrika te bepaal en vir die tweede agtereenvolgende jaar het die Noord-Kaap weer oor geen vullisterreine beskik wat aan minstens 80% van die ouditvereistes voldoen het nie. Dié provinsie, tesame met die Vrystaat, is die swakste presterende provinsies in die land.

Die jaarlikse oudit bepaal of vullisterreine aan die nodige omgewings-, gesondheids- en veiligheidsvereistes vir verantwoordelike afvalbestuur voldoen. Die oorgrote meerderheid (85,8%) van vullisterreine in die land kon egter nie vanjaar se oudit slaag nie. Dieselfde is waar in die Noord-Kaap, waar geen van die 22 vullisterreine wat geoudit is aan die minimum (80%) wetlike vereistes vir verantwoordelike afvalbestuur voldoen het nie. Die gaan so beroerd in hierdie provinsie dat Britstown, De Aar, Delportshoop, Douglas, Hanover, Keimoes en Strydenburg se vullisterreine aan geen van die ouditvereistes voldoen het nie. Slegs Orania se vullisterrein het amper die paal gehaal (76%-nakoming).

Só vergelyk die vullisterreine in die Noord-Kaap:

Lize-Mari van der Linden, AfriForum se distrikskoördineerder vir die Karoo, sê dit is duidelik dat die meeste vullisterreine in die Noord-Kaap in ’n haglike toestand is. Dit kan grotendeels toegeskryf word aan die tekort aan personeel en basiese infrastruktuur by die terreine.

“Daar is ernstige tekortkominge by munisipaliteite met betrekking tot hul stelsels vir afvalbestuur en die personeel wat hiervoor verantwoordelik is. Boonop word daar geensins geld aan hierdie vullisterreine bestee nie, hoewel daar ’n begroting is daarvoor. Die kleiner munisipaliteite gaan veral gebuk onder wanbestuur in dié afdeling. Dit blyk egter dat geen daadwerklike stappe gedoen word om die tekortkominge aan te spreek nie,” sê Van der Linden.

AfriForum beplan reeds ’n vergadering met dr. Dion George, minister van Bosbou, Visserye en die Omgewing (DBVO), om die vullisterreinouditverslag se bevindings met hom te deel en ’n formele ondersoek teen die Noord-Kaap se nie-nakomende munisipaliteite te versoek. AfriForum is van mening dat Suid-Afrikaners se grondwetlike regte, soos die reg op ’n skoon en gesonde omgewing, deur die swak bestuur van vullisterreine ontsê word, daarom sal die DBVO dringend munisipaliteite tot verantwoording moet roep.

Soortgelyke plasings