|

Uitenhage-tak gryp in om verval te stuit

Basta met verval! Só sê AfriForum se Uitenhage-tak wat verlede week weer, as deel van dié burgerregteorganisasie se #OnsDorp-projek, met ’n skoonmaakaksie ingespring het om agteruitgang op Kariega (voorheen bekend as Uitenhage) teen te werk. Met dié aksie het die Uitenhage-tak die deurloop in Aalwynlaan, in Strelitziapark, skoongemaak. 

Die tak pak deurlopend verskeie selfdoenprojekte in dié Oos-Kaapse dorp aan en hoop om daarmee die res van die gemeenskap hier te motiveer om ook eerder self ’n verskil te maak as om te wag op die owerhede om werk te maak van verval.  

“Selfdoen is beter as niksdoen. As die munisipaliteit ons nie gaan help nie, sal ons self inspring en die werk doen,” verduidelik Wikus van der Walt, AfriForum se distrikskoördineerder vir die Oos-Kaap. “Hierdie dorp en gemeenskap ondervind talle uitdagings ten opsigte van dienste wat die Nelson Mandelabaai Munisipaliteit moet lewer, maar word telkens teleurgestel deur leë beloftes. Gemeenskappe wat egter opstaan en selfdoenaksies aanpak, maak uiteindelik – een projek op ’n slag – ’n daadwerklike verskil en dit is presies wat hier gedoen word.”  

Die tak nooi gemeenskapslede uit om ook betrokke te raak en sodoende deel van die oplossing te word. “Saam kan ons ’n veel groter verskil maak,” sluit Van der Walt af.

Soortgelyke plasings