|

“Skieter” in padwoedevoorval vervolg nadat Privaatvervolgingseenheid betrokke raak

Dennis Hearn is aangekla van die moord op Nicky Botes nadat hy na bewering in Junie vanjaar die oorledene tydens ’n padwoedevoorval in Klerksdorp in die kop geskiet het. Dit volg nadat Botes se pa AfriForum se privaatvervolgingseenheid genader het omdat dit geblyk het dat daar geen vordering met die saak was nie en die SAPD geen noemenswaardige terugvoer aan hom verskaf het nie. Hearn is nie eers gearresteer totdat die privaatvervolgingseenheid betrokke geraak het nie.

Ondersoekers van AfriForum se privaatvervolgingseenheid het die saak en die gebrek aan vordering met die ondersoek onder die aandag van die senior aanklaer van die Nasionale Vervolgingsgesag (NVG) in Klerksdorp gebring en met hom oor die saak gekonsulteer. Die betrokke aanklaer het daarna die polisie versoek om die dossier aan hom beskikbaar te stel. Nadat hy die dossier bestudeer het, het hy opdrag gegee dat Hearn onmiddellik vervolg moes word. Hearn het op 8 Desember 2021 vir die eerste keer in die landdroshof in Klerksdorp verskyn en die verhoor sal na verwagting volgende jaar begin.

“Die aanklaer se beslissende optrede in hierdie saak is prysenswaardig. Dit is egter  kommerwekkend dat die privaatvervolgingseenheid eers betrokke moes raak by ’n eenvoudige saak soos hierdie om te verseker dat die wiele van geregtigheid begin draai. Die slagoffer en sy familie verdien geregtigheid en die beskuldigde moet verantwoordbaar gehou word. Ons sal daarom voortgaan om die familie by te staan en die saak te monitor,” sê Natasha Venter, adviseur by AfriForum se privaatvervolgingseenheid.

Soortgelyke plasings