|

Moot bly skoon danksy AfriForum se buurtspan

AfriForum se Groter Moot-buurtspan het ná die Kersvakansie skaars grondgevat voordat bedrywighede weer in alle erns voortgesit is om die Moot skoon, netjies én veilig te hou.

Dié span het vroeg in Januarie weggespring en teen die einde van die maand altesaam 7,83 hektaar gras gesny. Daar is boonop 482 uur – meer as 20 volle dae – spandeer om allerlei soorte veldgras en bossies op sypaadjies te verwyder.

Die buurtspan het ook die Tshwane-brandweer gehelp om ’n boom wat in die omgewing van Rietfontein omgeval het, en die pad heeltemal versper het, te verwyder, terwyl AfriForum self agt bome opgesny en weggery het.

In ’n poging om die Moot verder te beveilig, het die tak se buurtspan intussen nog ’n kamera opgerig wat van kunsmatige intelligensie gebruikmaak om nommerplate te ontleed. Dié kamera is een van vele LPR-kameras wat as deel van ’n kameraprojek oor groot gedeeltes van die Moot geïnstalleer is.

“AfriForum sal aanhou om gemeenskappe by te staan waar die staat of munisipaliteit misluk, en sal voortgaan om hoop te skep deur projekte aan te pak wat ’n daadwerklike verskil in die gebied maak,” sê Sampie Steinberg, AfriForum se distrikskoördineerder vir Groter Pretoria-Noord.

Soortgelyke plasings