|

Uitspraak voorbehou in Pretoriase Hooggeregshof oor Afrikaans by UP

AfriForum en Solidariteit het gister die grondwetlikheid van die UP se voorgestelde taalbeleid voor ʼn volbank regters in die Pretoriase Hooggeregshof geplaas.

Dié beleid, wat op 22 Junie 2016 aanvaar is, stel dat Engels vanaf 2017 die primêre taal van onderrig aan die instelling sal wees. Volgens AfriForum en Solidariteit is dit ʼn growwe skending van Afrikaanssprekende studente aan dié universiteit se taalregte.

Die hofaansoek is deur die regters Jody Kollapen, Peter Mabuse en Selby Baqwa aangehoor.

Volgens advokaat Johan du Toit, wat namens AfriForum en Solidariteit opgetree het, móét universiteite die behoeftes van die gemeenskappe wat hul dien in ag neem en moet Afrikaanse studente ingesluit word wanneer besluite oor die breër studentegemeenskap geneem word.

Hy meen voorts dat die behoud en bevordering van Afrikaans as onderrigtaal aan die UP reeds prakties en uitvoerbaar is omdat daar ʼn behoefte aan Afrikaanse klasse geïdentifiseer is én dosente beskikbaar is wat in dié taal onderrig kan bied. Volgens Du Toit sal die aanbieding van klasse in Afrikaans nie die aanbieding van klasse in Engels beïnvloed nie.

Die regters het egter hul kommer uitgespreek op verskeie punte van Du Toit se argumente.

Hoewel regter Jody Kollapen klem gelê het op artikel 29(2) van die Grondwet wat stel dat elkeen die reg het om aan ʼn openbare onderwysinstelling onderwys te ontvang in die taal van hul keuse mits dit op ʼn redelike en praktiese wyse doenlik is, het hy bevraagteken of Afrikaans as onderrigmedium beide “prakties” en “redelik” is teenoor ander studente.

Regter Peter Mbusa het egter Kollapen se argument oor “redelikheid” ondersteun toe hy gevra het of Afrikaanse studente nie ʼn pedagogiese voorsprong gaan geniet bó studente wat in Engels studeer nie, omdat Afrikaanse klasse kleiner is en meer aandag aan dié studente verleen kan word. Mbusa het verder genoem dat daar nie dieselfde geleenthede beskikbaar is vir sprekers van die ander inheemse tale nie en dus word Afrikaanse studente uit die staanspoor bevoordeel.

Volgens Du Toit ontneem die keuse om in Afrikaans te studeer nie die regte van ʼn student van ʼn ander taal of ras nie en is die behoud van klasse in Afrikaans “prakties uitvoerbaar” én “redelik”. Hy argumenteer voorts dat daar ʼn bespotting van art. 29(2) van die Grondwet gemaak word indien Engels die enigste onderrigtaalopsie aan dié universiteit is.

Regter Selby Baqwa het weer op sy beurt die invloed wat Afrikaans as onderrigmedium op sosiale kohesie by UP kan hê bevraagteken, waarop adv. Gretha Engelbrecht, óók deel van AfriForum en Solidariteit se regspan, later geantwoord het dat sosiale kohesie nie bewerkstellig kan word wanneer groepe van hul regte ontneem word nie.

Op adv. Gilbert Marcus, regsverteenwoordiger van die UP, se aantygings dat AfriForum en Solidariteit kortsigtig optree en nié die geskiedenis in ag neem nie, het Engelbrecht aangevoer dat dié organisasies geen behoefte het om weg te hardloop van die land se geskiedenis nie, maar wil nie ʼn eensydige geskiedenis as die enigste geskiedenis voorhou nie.“Ons geskiedenis sluit ook in, en ek sê nie vir ’n oomblik dit was in dieselfde graad nie, die onderdrukking van Afrikaanse mense deur Engelse mense.”

Volgens Engelbrecht sal die wegdoen van Afrikaans nie ʼn gelyke speelveld by die UP bewerkstellig nie, omdat daar steeds ʼn skeiding is tussen studente wat Engelse moedertaalonderrig gaan ontvang én studente wat onderrig in Engels ontvang maar ander moedertale het. Met die gevolg dat een groep studente steeds bevoordeel gaan word.

Alana Bailey, adjunk uitvoerende hoof van AfriForum, meen dié saak gaan nie net oor die beregtiging van Afrikaanse studente nie, maar ook oor die beskerming van die beginsels van moedertaalonderrig en meertaligheid in Suid-Afrika.

 

Soortgelyke plasings