|

Universiteit-debatteerders praat ’n hond uit ’n bos uit by Akademia

AfriForum se Dink of Sink-span het op 20 April die eerste Dink of Sink- onvoorbereide debatskompetisie vir universiteitstudente by die Akademia-kampus in Gerhardstraat in Centurion aangebied.

Die doel van die Dink of Sink- onvoorbereide debatskompetisie is om debat in Afrikaans op laerskool-, hoërskool- en universiteitsvak te bevorder. Terselfdertyd leer die debatteerders ’n kernvaardigheid wat hulle in die toekoms sal baat wanneer hulle die werksplek betree. AfriForum het egter besluit om in 2023 die kompetisie na elke universiteit in Suid-Afrika uit te brei waar universiteitstudente deelneem. Die wenspan van die universiteit dring dan deur na die nasionale finaal wat vanjaar op 6 Julie plaasvind.

Altesaam 48 universiteitstudente van Akademia en die Universiteit van Pretoria het aan die interne kompetisie deelgeneem.

“Met goed geformuleerde argumente, selfvertroue en goeie debatteringsvaardighede, het studente waarlik hulle staal by die kompetisie gewys. Dit is ongelooflik om te dink dat die studente slegs drie ure gehad het vir die voorbereiding van drie verskillende mosies en steeds het hulle puik presteer,” sê Nicolene Müller, AfriForum se projekkoördineerder vir Onderwys.

Universiteit van Pretoria 1 se Euléne Bornman, Anjé van Jaarsveld, Taryn van den Berg en Reghard Pieterse is as die grootste groot praters aangekondig, terwyl Akademia 1 se Myrthle Endley, Frances Dreyer, Miné Hermann en Elsomé Thuynsma as die naaswenners aangekondig is. Beide die spanne dring deur na die nasionale finaal waar hulle teen die Noordwes-Universiteit en die Universiteit Stellenbosch sal deelneem.

“Die hoë gehalte van die debatte weerspieël die toewyding wat die universiteitstudente toon in hul oefening. Ons sien baie uit om te aanskou hoe hierdie studente in hul debatte verbeter en natuurlik ook vir ’n naelbyteindstryd by die nasionale finaal,” sluit Müller af.

Soortgelyke plasings