|

AfriForum-takke sê munisipaliteit moet munisipale begroting beter aanwend vir GOP

Die AfriForum-takke in Klerksdorp en Stilfontein het kommentaar op die City of Matlosana Plaaslike Munisipaliteit se jaarlikse geïntegreerde ontwikkelingsplan ingedien. Daar is ondermeer aanbevelings gemaak oor waarvoor die munisipaliteit moet begroot. Dit blyk dat dié munisipaliteit se geld uiters swak bestuur word.

Klerksdorp se voorstelle het veral gehandel oor Uraniaville, ’n industriële gebied wat die sentrale punt van besigheid in die dorp is. Die tak het voorgestel dat sakelui hande moet vat met die munisipaliteit om ’n werkbare begroting vas te stel om van die grootste behoeftes in die area uit te stryk.

Die elektriese netwerk in Klerksdorp is in ’n bedenklike toestand asook die paaie, daar moet begroot word vir instandhoudingswerk. Voorts voldoen die vullisterreine in Klerksdorp en Hartbeesfontein nie aan die ouditvereistes nie en daar waar ’n kontrakteur aangestel is om die vullis te verwyder word selfs dít nie gedoen nie. Riool word in waterbronne gestort en die rioolaanleg kort dringende instandhoudingswerk, daar moet ook behoorlike sekuriteit daar aangestel word.

In Stilfontein is die grootste behoeftes waarvoor daar begroot moet word onder meer:

  • Instandhouding van die paaie
  • Rioolpype wat verstop en oorstroom
  • Instandhouding van die kragnetwerk
  • Instandhouding van waterpype om die verlies van skoon water te bekamp
  • Beter verkeerbeheer deur spoedwalle en padtekens
  • Vullisverwydering
  • Opskerp van die wanfunksionerende brandweer
  • Instandhouding van munisipale geboue

“Ons hoop werklik dat die munisipaliteit gehoor sal gee aan die takke se aanbevelings vir die begroting, daarvoor sal begroot en die fondse sal gebruik vir die saak waarvoor dit begroot is. Ons verstaan dat die verval nie in een jaar reggeruk sal kan word nie, maar daar moet begin word daarmee, anders sal daar nooit vordering wees nie. AfriForum sal kyk wat in die begroting aangebring word en die munisipaliteit tot verantwoording roep,” sê Alta Pretorius, AfriForum se distrikskoördineerder vir die Mooirivier.

Soortgelyke plasings