|

Motorkapers loop rieme styf

AfriForum se Brits-buurtwag het op 18 Mei omstreeks 16:37 inligting ontvang dat ’n grys Toyota Fortuner by die Armansis Mediese Sentrum gesteel is. Die registrasienommer van die voertuig is blitsig aan die betrokke groepe deurgegee. Die Brits-buurtwag het ook die publiek versoek om versigtig en op die uitkyk vir die gesteelde voertuig te wees.

Dit volg nadat ’n AfriForum-lid dié inligting deurgestuur het toe die voertuig by sy onderneming gesteel is. Die inligting is deur die Brits-buurtwag se Gemeenskaplike Operasionele Sentrum (GOS) versprei en op verskeie WhatsApp-groepe gedeel, insluitend met lede van verskillende statutêre en nie-statutêre sekuriteitsmaatskappy, asook die Protospan. Daar was geen opsporingstoestel in die gesteelde Fortuner geïnstalleer nie.

Protego Security Group het omstreeks 16:44 die gesteelde voertuig in die rigting van Ga-Rankuwa opgemerk. Dié inligting is gedeel en verskeie groepe het gereageer. Die gesteelde voertuig is deur ’n Ford Ranger vergesel wat een van die sekuriteitsmaatskappye se voertuie van die pad afdruk het. Dié voertuig het egter die Fortuner en Ford Ranger vir ’n ruk verloor, maar die verdagtes is vinnig weer opgespoor.

Omstreeks 16:50 het die Protego Security Group die Fortuner voorgekeer waarna van die mans uitgespring en weggehardloop het. Een verdagte is wel gearresteer wat in besit was van ’n seinblokker. Om 17:01 het die Suid-Afrikaanse Polisiediens (SAPD) op die toneel aangekom. Die Ford Ranger, met twee verdagtes daarin, het weggekom.

“Ons loof die uitstekende samewerking van die betrokke partye en die effektiewe manier waarop inligting versprei is. Ons bedank almal opreg insluitend die plaaslike SAPD en wens die Protego Security Group geluk met hul sukses,” sê Johan de Klerk, leier van AfriForum se Brits-buurtwag.

Om by die Brits-buurtwag aan te sluit skakel Johan de Klerk by 082 415 0987.

Soortgelyke plasings