|

Venterspos het weer lopende water ná Westonaria-tak ingryp

Die inwoners van Venterspos in Westonaria moes Kersfees en Nuwejaar vier sonder ’n enkele druppel water in die krane. Water moes van waterpunte af aangedra word en diegene wat nie self by waterpunte kon uitkom nie was afhanklik van ander gemeenskapslede om vir hulle water te bring.

Randwater het die watertoevoer afgesny weens die lae waterdruk in ander opgaardamme en die watertoevoer weer ná Kersfees herstel – Venterspos se krane het egter droog gebly. Die oorsaak van Venterspos se gebrek aan water was ’n 60m-lange pyp wat gesteel is. Rand West City het die pyp vervang maar verkeerder klampe gebruik.

AfriForum se Westonaria-tak het reeds kort ná Nuwejaarsdag toestemming gevra om self hierdie probleem op te los en ná ’n vergadering op 3 Januarie het die munisipaliteit ingestem dat AfriForum wel kan help.

Die AfriForum-tak het met behulp van Pro-Electrical Wholesalers and Contractors daarin geslaag om die herstelwerk binne ’n dag te voltooi en meeste van die inwoners het teen 5 Januarie weer water gehad.

“Ongelukkig het swak instandhouding en diefstal daartoe gelei dat groot dele van Westonarea steeds waterverwante uitdagings moet trotseer en Rand Wes City bly nie voor met al die waterprobleme nie,” sê Esther Swart, voorsitter van AfriForum se Westonaria-tak.

“Dit was goed om te sien hoe vinnig die gemeenskap kon mobiliseer om hierdie probleem op te los. Dit is nou belangriker as ooit dat gemeenskappe bereid moet wees om verantwoordelikheid te neem en hulle omgewings in stand te hou,” sluit Swart af.

Sluit vandag nog aan by www.wordlid.co.za om ’n daadwerklike verskil in jou omgewing te maak.

Soortgelyke plasings