|

Klerksdorp-tak toets vir cholera

AfriForum se Klerksdorp-tak het op 8 Junie watermonsters geneem om vas te stel of daar nie cholera teenwoordig is in die spruite en riviere van die dorp nie. Daar is op drie verskillende plekke monsters geneem om by ’n geakkrediteerde laboratorium getoets te word. Die monsters is geneem by die Kruising van Schoonspruit- en Boet Randlesstraat, die kruising van Schoonspruit- en Inglelaan en die kruising van Schoonspruit- en Kagisostraat.

Hoewel daar nie op een van hierdie plekke tekens van cholera gevind is nie, is daar egter by al drie plekke tekens wat dui op E.coli en fekale kolivorme gevind. Dit beteken dat daar rouriool in die rivier is wat ander siektes as cholera kan veroorsaak.

“Ons maan inwoners van Klerksdorp aan om nie water uit die rivier te gebruik nie en as dit noodsaaklik is, moet die water eers gekook word. Inwoners moet ook nie in die water swem nie. Verder is dit raadsaam om diere weg te hou van die rivier en spruite af,” sê Alta Pretorius, distrikskoördineerder vir die Mooirivier.

Die plaaslike AfriForum-tak sal met die die Matlosana-munisipaliteit in gesprek tree om daadwerklik op te tree om die probleem op te los.

“Die swak bestuur en onbevoegdheid van munisipaliteite is nou vinnig besig om hulle in te haal. Dit is egter hartverskeurend dat ons waterbronne, waarsonder nie mens of dier kan klaarkom nie, in die proses so besoedel word,” sê Pretorius.

Raak vandag nog by AfriForum se Klerksdorp-tak betrokke en maak ’n verskil. Kontak Frans Roos by 083 378 8826.

Soortgelyke plasings