|

Diskriminerende raskwotas skend regte en prestasiegeleenthede by o/16 Grant Khomo-week

AfriForum is bewus van ’n besluit wat geneem is om die Westelike Provinsie se o/16-span van die finaal van die Grant Khomo-week te diskwalifiseer omdat die span nie aan die raskwotas van die toernooi voldoen het nie. Die burgerregteorganisasie het ’n brief aan die Suid-Afrikaanse Rugbyunie (SARU) gerig waarin dit versoek dat die unie tussenbeide tree en die diskriminerende besluit omkeer.

Inligting wat verkry is, dui daarop dat die Westelike Provinsie se o/16-span aan die begin van die toernooi voldoen het aan die raskwotas, maar later weens beserings geen ander keuse gehad het as om die beste span tot hul beskikking op die veld te sit nie. Ronald Peters, bestuurder van AfriForum Sport, verduidelik dat die feit dat daar besluit is om dié span van die geleentheid te ontneem om aan die toernooi se eindstryd deel te neem, suiwer op grond van raskwotas, diskriminerend en onregverdig is op baie vlakke.

“AfriForum is sterk gekant teen enige rassediskriminasie aangesien dit individue van die geleentheid ontneem om mee te ding suiwer op grond van hul velkleur. SARU het sy Rugby Against Discrimination And Racism (RADAR)-veldtog in 2019 van stapel gestuur, wat die unie se beleid van geen verdraagsaamheid teenoor diskriminasie en rassisme in rugby beklemtoon. Daarom glo ons dat hierdie daad van diskriminasie teen ’n span minderjarige rugbyspelers die kernwaardes van hierdie veldtog skend en dringend uitgeklaar moet word,” sê Peters.

AfriForum vra dat SARU se bestuur terugvoer gee oor die stappe wat hulle gaan neem om te verseker dat sulke besluite nie in die toekoms herhaal sal word nie.

Soortgelyke plasings