|

Verdediging se gesloer lei daartoe dat saak teen Dieter Bergs weereens uitgestel word

Dieter Bergs se verdedigingspan het gister in die Suid-Gautengse Hooggeregshof in Johannesburg weereens aansoek gedoen om uitstel nadat Bergs se prokureur aangevoer het dat hy te siek was om betyds sy hoofde van betoog te liasseer. Dit volg nadat Regter Strydom op 6 Junie 2022 ’n spertyd vir beide die Staat sowel as die verdediging se hoofde gestel het om hom in staat te stel om moontlik gister uitspraak te lewer in die moordsaak van Genèe Bergs. Die Staat het wel sy hoofde betyds geliasseer.

AfriForum se privaatvervolgingseenheid tree op ingevolge ’n waaksaamheidsopdrag van Genèe Bergs se dogter. Bergs se dogter het die eenheid in 2019 genader nadat die Nasionale Vervolgingsgesag (NVG) vir meer as agt jaar versuim het om vervolging in te stel teen Dieter Bergs (87) vir (onder meer) die moord op sy vrou, Genèe Bergs. Nadat die eenheid in April 2020 vertoë aan die Direkteur van Openbare Vervolging gerig het dat Bergs vervolg moet word, het die DOV beveel dat Bergs vervolg moet word en hy moes in Desember 2020 in die Johannesburgse Landdroshof verskyn op dié klagtes. Hy is op daardie geleentheid vrygelaat op borgtog en die saak is oorgeplaas na die hooggeregshof.

Bergs is egter op grond van psigiatriese verslag van Sterkfontein bevind om onbevoeg te wees om verhoor te word. Hy word aangekla van vyf misdade wat hy na bewering tussen 2013 en 2014 gepleeg het. Dit sluit in, die moord op Bergs, vervalsing, die besit van ’n ongelisensieerde vuurwapen, die besit van ammunisie en die voorhou van vervalste dokumente (uttering). Die NVG het daarna vervolging ingestel kragtens artikel 77 van die Strafproseswet. Dit beteken dat die hof op ’n oorwig van waarskynlikhede ’n bevinding moet maak word of Bergs skuldig is aan verskeie misdrywe wat ’n ligter bewyslas is as in gewone strafsake. Indien Bergs skuldig bevind word, sal hy vir die res van sy lewe as ’n staatspresidentspasiënt in ’ninstelling vir verswaktes aangehou word.

Indien Bergs nie verhoor en skuldig bevind word nie, kan hy van sy oorlede vrou erf wat nie die geval sal wees as hy aan haar moord skuldig bevind word nie.

“Verskeie lede van Genèe se familie was ook gister in die hof met die hoop om uiteindelik uitspraak in hierdie uitgerekte saak te kry. ’n Mens kon hulle frustrasie met die feit dat die saak nogmaals uitgestel is, aanvoel. AfriForum betreur ook die verdere uitstel, aangesien dit verdere tydverspilling is en daartoe gelei het dat die familie weereens teleurgesteld moes huis toe gaan,” sê Natasha Venter, adviseur by AfriForum se Privaatvervolgingseenheid.

Liane Heyl, Genèe se susterskind was ook gister in die hof. Hoewel sy duidelik ontsteld was met die verdere uitstel, het sy AfriForum bedank vir die eenheid se betrokkenheid by die saak. “Sonder AfriForum weet ek nie waar die saak vandag sou wees nie,” sê Heyl.

Die saak is uitgestel tot 14 Oktober 2022.

Lees die vorige verklaring hier.

Soortgelyke plasings